Gansbaai: Eerste 150 trek gou in

Die name van die eerste 150 begunstigdes wat huise in die nuwe behuisingsontwikkelingsprojek in Blompark, Gansbaai, sal ontvang, sal eersdaags bekend gemaak word.


Die name van die eerste 150 begunstigdes wat huise in die nuwe behuisingsontwikkelingsprojek in Blompark, Gansbaai, sal ontvang, sal eersdaags bekend gemaak word.

Dié aankondiging is Dinsdag 17 Mei tydens ’n spesiale gemeenskaps­vergadering bekend gestel.

Die Overstrand-raadslid Ronald Nutt, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, sowel as die uitvoerende burgemeester, dr. Annelie Rabie, die wyksraadslid Riana de Coning, Gansbaai se streeksbestuurder, Francois Myburgh en Aron Gcotyelwa, wat tans die waarnemende hoof van behuising is, het met die gemeenskap vergader om hulle op hoogte te bring oor die vordering van die Blompark-behuisingsontwikkelingsprojek.

Dié ontwikkeling is deel van die geïntegreerde residensiële ontwikkelingsprogram met ’n toegewese begroting van net meer as R78 miljoen. As alles volgens plan verloop, sal 539 huise (bo-strukture) teen einde Junie 2023 gebou wees.

’n Residensiële ontwikkelingsprogram bestaan nie net uit ’n gemengde ontwikkeling met huise vir verskeie inkomstegroepe nie, maar sluit ook kommersiële en ontspanningsruimtes in.

Bouwerk het in die middel van September 2021 begin en 117 huise is reeds voltooi.

Die mikpunt is dat 150 eenhede teen einde Junie vanjaar reeds klaar gebou sal wees, waarna die oprigting van die volgende 100 huise sal volg.

Die name van die eerste 150 begunstigdes sal by die kennisgewingbord by Blompark se gemeenskapsaal opgesit word.

Name is ook beskikbaar op die munisipale webwerf (www.overstrand.gov.za; gaan na Documents en kliek op Agendas and Minutes, kliek dan op Portfolio Committee en May 2021, kliek dan op 05_Item 1 Community Services, of besoek https://bit.ly/3Nnka2W).

Altesaam 114 aansoeke is reeds aan die provinsie gestuur om geverifieer te word. Van die 114 aansoeke is 71 inwoners goedgekeur. Die lys word daagliks bygewerk.

Nutt het onderneem om deurlopend met inwoners te kommunikeer oor die pad vorentoe en die vordering van die projek met hulle te bespreek.

Nutt het in die vergadering benadruk dat die munisipaliteit nie mense op die behuisingswaglys goedkeur vir ’n huis nie, maar wel die provinsie.

“Die behuisingsnood is groot, maar die Overstrand-munisipaliteit bly daartoe verbind om alles binne ons vermoë te doen om seker te maak waardige behuisingsgeleenthede word geskep,” het hy gesê.

Rabie het hiermee saamgestem en gesê dis belangrik dat inwoners eerlik moet wees met hul aansoeke en deurlopend hul kontakbesonderhede en ander inligting by die behuisingskantoor in Gansbaai moet opdateer.

Sy het ook verduidelik dat mense, benewens IRDP/BNG-behuising, ook kan kwalifiseer vir ander behuisingsopsies soos FLISP-subsidies, indien jy van R3 500 tot R22 000 per maand verdien, of gedienste erwe.

Rabie het inwoners aangemoedig om positief te bly en seker te maak dat hul name wel op die waglys is, al verdien hulle meer as R3 500 pm.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.