Die cliché lui agter elke suksesvolle man staan ’n suksesvolle vrou . . . En as dit kom by die dramaturg Pieter Fourie, is dit gewis die waarheid.
Sy vrou, Maletta Fourie, het gewys dit is nie net haar man wat met woorde kan toor nie, maar sy ook. Sy het op die vooraand van haar 80ste verjaardag en die herdenking van Pieter se dood ’n jaar gelede haar eie digbundel, Hartklop en Asem, bekend gestel.
Maletta word op 16 September 80.
Die digbundel is Saterdag 3 September op ’n gesellige en intieme manier in haar huis in Onrus bekend gestel – net soos Maletta, nederig en liefdevol. Ongeveer 50 mense het die byeenkoms bygewoon waar lekker saamgesels en gekuier is.
Een van die Fouries se jare lange vriende en die man wat haar gedigte ontdek het, Marius Scholtz, vertel: “Ek het Maletta leer ken nadat sy en Pieter bymekaargekom het. Sy is ’n verskriklike gul en toeganklike mens en ek het die geleentheid gehad om twee weke voor Pieter se dood by hulle in Onrus te kom kuier, en was dit nou nie lekker nie. Pieter het hom verkneukel oor stories en die manewales van my pa”.
Ná Pieter se dood het Marius weer ’n draai by Maletta gemaak en sy het terloops vir hom gesê sy skryf “gediggies”. “Ek was behoorlik uit die veld geslaan toe ek haar gedig, ‘Vir oulaas’, lees en het haar gevra of sy nie haar gedigte vir my wil stuur nie,” vertel Marius. Drie weke later het die gedigte by hom aangekom en hy het dit vir sy ma, Rita, wat ook ’n jare lange vriendin van Maletta is, voorgelees. Sy wou net meer en meer van haar gedigte hoor. “Ek het dadelik my goeie vriend, die uitgewer van Turksvy-publikasies, Daniel Hugo, van die gedigte vertel,” sê Marius. Daniel het die gedigte gelees en dadelik gesê hy wil meer hoor.
Die digbundel spreek boekdele oor haar lewe, en die merkwaardige kunstenaar, wat nie net met woorde skilder nie, maar ook met die kwas, het die omslag self geskilder.
Maletta vertel dat die omslag van haar boek en die skildery vir haar simbolies is van die lig wat deur die venster val. “Die lig het ook deur my venster geval die dag toe Marius my gedigte ontdek het,” vertel sy.
Sy vertel passievol oor haar liefde vir die natuur en waar sy begin skilder het. “Ek het van kindsbeen af in Carnarvon begin prentjies teken, en is later na die kunsskool, waar dit vir my ’n groot aanpassing was, want nie net is alles in Engels aangebied nie, maar die vakke, soos kunsgeskiedenis, was vir my volksvreemd.”
Oor haar reis met die digkuns sê sy: “Ek het nie gedigte geskryf nie, maar net idees neergepen. In die jare sewentig was ons saam met vriende in die Wildtuin en ek het my ervarings neergepen, maar dit was eers ná Pieter se dood dat ek begin dig het – dit het my gehelp om die donker te verdryf.”
Pieter het sy debuutbundel op 77-jarige ouderdom bekendgestel en altyd gespot dat hy die oudste Afrikaanse digter is wat op 77 eers sy debuutbundel bekendstel, maar Maletta het hom nou geklop . . . “Ons was nog altyd mededingend,” skerts sy.
Op ’n vraag of Pieter se gedigte ’n invloed op haar gehad het, vertel sy dat Pieter slim geskryf het, maar sy skryf uit emosie. Sy vertel hartseer dat Pieter nooit die geleentheid gekry het om haar gedigte te lees nie, maar sy glo dat hy dit wel kan hoor..Hartklop en Asem word deur Turksvy-publikasies uitgegee.
Marlene Malan, een van die eienaars, vertel dat dié onderneming in die grendeltyd gebore is en dat hulle met trots kan sê dat Maletta se digbundel die 30 ste boek is wat deur hulle uitgegee is.
Vir nog inligting oor waar om die digbundel in die hande te kry, bel Marlene by 083 308 6305.