Die nuus op 30 Desember van die skielike dood van Jerome Hoffman, ’n bekende en geliefde inwoner van Genadendal, is met skok en hartseer begroet deur nie net die inwoners van Genadendal nie, maar ook dié van Caledon, Myddleton en Greyton.

Jerome Deono Hoffman is op 21 Mei 1965 in Caledon gebore en het in Genadendal grootgeword, sy laerskooljare daar voltooi en sy hoërskool­loopbaan by Swartberg Sekondêr in Caledon voltooi.

Hoffman het vir baie jare as optiese tegnikus in Caledon sowel as in Kaapstad gewerk, maar in later jare was hy ’n bekende gesig by markte waar hy die familie se heerlike tuisgebakte koekies en beskuit verkoop het. Hy was elke Woensdag en Saterdag by die gewilde Greyton-markte; altyd vriendelik en altyd tyd vir ’n geselsie – telkens met een van sy kenmerkende hoede op die kop.

’n Jare lange vriend, Brian Oliver, sê: “Jerome was ’n baie vriendelike mens en het almal altyd met ’n glimlag begroet. Hardwerkendheid was een van sy sterk eienskappe. Sy heengaan laat ’n groot leemte in die gemeenskap.”

Hoffman was betrokke by sy gemeenskap. Hy was die tesourier van die Caledon Informal Traders Association en het ook voorheen op die komitee van die Vriende van die Genadendal-museum gedien.

Angela Frans, Hoffman se suster sê: “Jerome was ’n perfeksionis. Hy was ’n goeie organiseerder en puik finansiële bestuurder vir sy onderneming. Hy was ook ’n mensemens wat ’n lekker storie kon vertel wat almal aan sy lippe laat hang het wanneer hy dit op sy spesiale manier vertel het. Hy was ’n omgeemens wat ’n groot hart vir sy medemens gehad het.

“Ons mis hom reeds. Hy laat ’n groot leemte in ons lewe.”

Hoffman word oorleef deur sy vrou Belinda, kinders Caylin Swartz en Deono Hoffman, kleinkinders Zeek Swartz en Layaan Hoffman asook sy broers Dustun en Johannes Hoffman en suster Angela Frans.

Hoffman se begrafnisdiens is op 7 Januarie by St. Michaels & All Angels Church in Myddleton gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.