Natuurrampe soos oorstromings en brande bring dikwels die heel beste in gemeenskappe na vore. Dit is weer bewys toe 17 strukture Saterdagnag 8 Januarie in Riemvasmaak, Caledon, afgebrand en die hele gemeenskap ingespring het om die slagoffers by te staan.
Kallie Papier, die TWK-burgemeester, sê: “Ek, die onderburgemeester en die wyksraadslid was laat Saterdagnag op die toneel toe die brandweer gehelp het om die brand te blus. Dit was regtig nie ’n lekker gesig om te sien hoe die mense se huise en besittings verbrand nie. Ons het die volgende dag stootskrapers ingestuur om die gebied op te ruim en ook starter packs asook kospakkies aan die nege geregistreerde eienaars uitgedeel. Skenkings wat uit die gemeenskap ontvang is, is ook uitgedeel. Ons sal in die toekoms voorkomend moet optree. Dit is ’n gebied wat ons nie eintlik geformaliseer het nie en die huise is heeltemal te naby aan mekaar gebou. Daar is nie brandpaaie tussenin nie. Ons moet dit oorweeg om die huise te herrangskik sodat ’n brandweervoertuig kan inkom.”
Carol Benjamin, ’n raadslid, sê: “Kallie het my Saterdag om 23:40 gebel om te sê dit brand in Riemvasmaak. Toe ek daar kom, was die hele blok al vernietig. Ons het gebly totdat die brand in bedwang was. Sondagoggend was ek weer daar vir bestekopname en om te kyk wat die slagoffers nodig het.
“Sommige mense het al van vroeg Sondagoggend af met die herbou van hul strukture begin. Baie organisasies en mense het ’n beroep op skenkings gedoen, en ek moet sê die plaaslike gemeenskap het mildelik bygedra. Ons sit met ’n logistieke probleem, want munisipale ondersteuning kan net gebied word gegrond op die aantal geregistreerde erwe, maar vanuit ’n menslike oogpunt moet ons almal help. Ek is diep dankbaar vir almal wat ’n bydrae gelewer het.”
Abulele Lekatha, wie se struktuur ook heeltemal verwoes is, sê: “Dit was omstreeks 22:00 en ek het van die kerk af by die huis gekom en was reg om bed toe te gaan toe ek mense buite hoor skree. Toe ek buite kom, het ek gesien die ander huise is aan die brand. Ek het water by die kraan probeer tap, maar daar was nie water nie.
“Ek het ook die brandweer gebel. Die brand het vinnig versprei en ons kon niks red nie. Die gemeenskap het ons baie gehelp en ek is baie dankbaar daarvoor.
“Wat vir my eintlik hartseer is, is dat booswigte van ons besittings gesteel het wat ons buite gesit het aangesien ons huise nog nie klaar gebou is nie.”
Tanya Bippert van One Billion Rising SA sê: “Ons het ’n vakansieprogram vir 100 tot 140 kinders waar hulle elke dag ontbyt en middagete kry en ons speel ook met hulle en doen kunsvlytprojekte. Wanneer die skoolvoedingskema weer begin, verskaf ons dan twee of drie keer per week ’n gekookte maaltyd. As deel van One Billion Rising se gemeenskapswerk het ons ook ’n versoek aan die gemeenskap vir skenkings vir die brandslagoffers gerig.
“Ons het skenkings van so ver as Kaapstad ontvang. Bykomende kosvoorraad is ook gestuur sodat ons hierdie mense vir nog ’n week van toebroodjies en een gekookte maaltyd per dag kan voorsien. Dit maak my besonders trots om te sê ek is van Caledon, want die gemeenskap het werklik saamgestaan.”
Tydens Hermanus Times se besoek aan Riemvasmaak Dinsdag 11 Januarie het sommige van die slagoffers nog half verdwaas rondgeloop en gesê hulle is nog te geskok om met die herbou van hulle strukture te begin, terwyl ander reeds hard besig was om aan hul eie of vriende se herboude strukture te timmer en te verf.