“As ek nou een ding geleer het nadat my geliefde sniphond (Cocker Spaniel), Abby, Saterdag (29 Mei) weggeraak het, is dat ons as Suid-Afrikaners tog kan saamstaan.”
Só sê Jen Niehaus oor die soektog na haar geliefde Abby. “Ek het selfs ’n Facebookblad FindAbby begin, en die ondersteuning wat ons van die gemeenskap kry, is oorweldigend.”
Abby het op 29 Mei op die Cliff Path in die Voëlklip-omgewing weggeraak. Die sniphond met haar unieke kleure het almal aangeraak en dit was nie kort voor lank nie, of die hele gemeenskap het soos een man saamgestaan en na Abby gesoek. “Dit is hartverskeurend. Sy is soos ’n kind vir ons; sy kan enige plek wees. Sy het ’n mikroskyfie en is gesteriliseer. Sy is ons kind. Enigiemand wat weet waar sy is, moet ons asseblief so gou as moontlik laat weet,” het Jen in Hermanus Times van 15 Junie gesê.
Volgens Jen glo sy hul dierekind is in iemand se sorg. “Ons het al oproepe gekry om te sê hulle het Abby saam met ’n vrou sien loop. Sy is so ’n mooi hond met ’n mooi geaardheid,” vertel sy hartseer.
Jen sê tot ’n hondesiener het aan boord gekom het en gesê Abby leef nog. “Ek vra weer die gemeenskap om asseblief te help met die soektog na Abby.” Hulle het ook ’n beloning uitgeloof as iemand Abby terugbesorg. . As iemand dalk weet waar Abby is, bel Charles by 082 896 1805 of Jen by 083 252 1576.