Ouers in Botrivier eis by WKOD vir nog ‘n skool.


Die gemeenskap van Botrivier het oor die jare aansienlik gegroei namate die dorp uitgebrei het. Hoewel ’n aantal nuwe ontwikkelings plaasgevind het, het die dorp egter steeds net een laerskool en kinders in hoër grade moet na naburige dorpe reis om ’n hoërskool by te woon.

Hierdie verwikkelinge het ’n aantal inwoners van Botrivier aangespoor om ’n komitee op die been te bring wat die dorp se “skool-krisis” sal aanspreek. Die komitee het intussen ’n memorandum opgetrek wat hulle beoog om Woensdag 18 Januarie aan amptenare van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) te oorhandig.

’n Woordvoerder van die komitee verduidelik dat hulle hoofdoel is om ’n aksie van stapel te stuur wat sal lei tot die bou van ’n hoërskool in Botrivier. “Ons doelwit is die bou van ’n multi-faset-opvoedkundige fasiliteit wat akademiese, tegniese en beroepsgerigte onderwys sowel as leerders met spesiale behoeftes sal kan huisves,” aldus die woordvoerder. “ ’n Fasiliteit van hierdie aard sal ’n eerste vir die Overberg wees en sal ’n noodsaaklike weg vir onderwys in die distrik baan.”

Die komitee nooi inwoners van Botrivier om Woensdag omstreeks 07:00 op die oop stuk veld oorkant Botrivier Primêre Skool byeen te kom voordat ’n memorandum rakende die situasie aan verteenwoordigers van die WKOD oorhandig sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.