Corné Kemp en sy span droom al sedert 2010 van ’n gemeenskapsaal vir die dorp, en – soos hy dit stel: “ ’n Droom wat sedertdien nog nie verwesenlik is nie, maar steeds helder by my bly leef.”
Dié droom het twee jaar gelede begin vorm aanneem toe die NG gemeentes – die Moedergemeente en Onrus – besluit het om ’n naam aan die droom te gee, naamlik ’n Hawe van Hoop/House of Hope, of net die Dorpsaal.
“Die gemeenskapsaal moet ’n plek wees waar mense weer hoop vir die toekoms kan skep deur middel van noodverligting, werkskepping, berading en vele meer,” het Kemp gesê.
Volgens hom is verskeie vergaderings reeds tussen die twee betrokke gemeentes gehou, waarby professionele mense geraadpleeg is om dié droom te verwesenlik.
“Dit verg egter ’n groot poging van die kerke en gemeenskap om geld bymekaar te maak sodat hierdie droom ’n werklikheid kan word.
“Ons vertrou dat kerke, die munisipaliteit en ondernemings na vore sal kom sodat hierdie projek nie net ’n droom bly nie, maar tot voordeel van die hele Hermanus kan wees,” het Kemp gesê. . Die eerste geldinsamelingsprojek word op 3 Maart om 18:00 in die Grobbelaarsaal gehou. Dié wynveiling saam met ’n kos-en-wynparing word deur Wine Village aangebied. Net 100 kaartjies teen R450 per persoon is beskikbaar. Vir nog inligting, kontak Leatitia Pieterse by 082 558 8414 of die kerkkantoor by 028 312 3904.