Met die feestyd op hande sien baie mense uit na ’n luilekker somervakansie met gesellige familiesamesyn rondom feestelik gedekte tafels.
Nie almal is egter so bevoorreg om by ’n Kerstafel vol heerlike geregte te kan aansit nie. In baie huishoudings sal daar moontlik geen kos wees om op die tafel te sit nie.
Om hierdie probleem die hoof te bied, het die NG Caledon-Wes-gemeente in September 2023 ’n Deel die Seisoen-projek van stapel gestuur.
Tydens ’n geleentheid op Donderdag 5 Desember is mieliemeel aan verskeie kerke en ander organisasies oorhandig, wat dit op hul beurt aan mense in hul gemeenskappe wat dit nodig het, sal versprei.
’n Aantal Bybels, in Afrikaans sowel as in Engels, was ook beskikbaar om aan die gemeenskap uit te deel.
Felicity Philander, een van die projekleiers saam met Charl Cloete en Gielie Botha, sê: “Die projek het verlede jaar baie goed begin met die PEAK-pap wat ons uitgedeel het. Omdat dié pap nie tans beskikbaar is nie, het ons besluit om hierdie jaar mieliemeel uit te deel. Die Wes-gemeente het regtig baie moeite gedoen om mieliemeel asook finansiering in te samel en ons is dankbaar dat ons vandag 666,5 kg-mieliemeel aan verskeie organisasies en kerke kan oorhandig,” sê Philander
“Die plan is om hierdie projek volhoubaar te maak en om werklik in die behoeftes van die gemeenskap van Caledon te voorsien.”
Heerlike boereworsrolletjies, koek en koffie is na afloop van die geleentheid bedien.
. Kontak Philander by 081 270 0758 of per e-pos by ngcalwes@overnet.co.za vir verdere inligting.