’n Inwoner van Bredasdorp is vol lof vir die polisie nadat hulle daarin geslaag het om sy gesteelde bakkie binne twee ure terug te vind.
“Ek wil net vir die polisie krediet gee vir hul uitstekende diens. Hulle het goed beplan en goed saamgewerk en my bakkie binne twee uur teruggekry.
“Mense kla altyd oor die polisie se diens en kraak hulle af, maar hier is bewyse dat daar wel nog polisielede is wat hul werk doen,” sê Loffie Beukman.
Beukman se Ford Bantam-bakkie is Saterdag 22 Januarie uit sy erf gesteel terwyl hy in sy huis was. Hy het vroeër die dag aan die voertuig gewerk en is later die huis in om middagete te gaan geniet toe die bakkie gesteel is.
“Terwyl ek in die sitkamer was, het ek ’n man met ’n rooi hemp in die erf gesien,” vertel hy.
Toe hy gaan ondersoek instel, sê hy, was daar geen teken van die man nie. “Ek het myself afgevra hoe hy so vinnig kon verdwyn het,” sê Beukman.
Hy het toe tot sy skok ontdek dat sy bakkie gesteel is en het die diefstal dadelik by die polisie aangemeld. Die polisie het beeldmateriaal van kameras by die verskillende ingange na die dorp bestudeer en vasgestel dat die bakkie by die Stormsvleipad afgedraai het.
“Toe hulle sê die bakkie is by die Stormsvleipad gewaar, het ek begin positief voel dat ek my bakkie sou terugkry,” sê Beukman.
Adjudant-offisier Jakobus Marthinus, woordvoerder van die Bredasdorp-polisie, het bevestig die motordiefstal is Saterdag 22 Januarie aangemeld.
“Omliggende polisiekantore is onmiddellik in kennis gestel en gevra om op die uitkyk na die gesteelde voertuig te wees,” sê Marthinus.
Dié vinnige optrede het daartoe gelei dat die gesteelde voertuig ongeveer twee uur later in Worcester gevind is. ’n Verdagte (49) is deur die Worcester-polisie in hegtenis geneem.
“Die polisie het my 15:10, twee uur nadat die bakkie gesteel is, gebel om te sê hulle het dit naby Worcester gekry,” vertel Beukman verheug.
“Die manier hoe die polisie van Bredasdorp, Bonnievale, Robertson en Worcester saamgewerk het, was uitstekend en ek stel hul diens hoog op prys. Baie, baie dankie.”
Die verdagte het in die Worcester-landdroshof op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere verskyn. Die saak van motordiefstal sal bygevoeg word.