Die voertuig wat tydens die gewapende rooftog in Kleinmond gebruik was, is vroeër die maand in Atlantis as gesteel aangemeld.


KLEINMOND – Die polisie het bevestig dat die silwer voertuig wat in die gewapende rooftog in Kleinmond se hoofweg gebruik is, gesteel is.

Twee mans wat in die voertuig gereis het, het volgens berigte Maandag 14 November omstreeks 09:45 ’n werknemer van OK van ’n groot bedrag geld beroof. Die werknemer was te voet op pad bank toe. Die een verdagte het haar voorgekeer, met ’n vuurwapen gedreig en die geld afgevat.

Die polisie het ure later – omstreeks 16:40 – in Overhills- informele nedersetting op die VW Golf beslag gelê.

Adjudant-offisier Martin Mostert, ’n woordvoerder van die Kleinmond-polisie, het bevestig die voertuig is vroeër vandeesmaand in Atlantis as gesteel aangemeld.

“Vingerafdrukke is geneem,” het Mostert gesê. “Ons het egter geen teken van die geld gekry nie en die verdagtes is steeds op vrye voet.”

Mostert het ondernemings gemaan om nie werknemers te voet te stuur om groot bedrae geld by die bank te gaan deponeer nie.

“Dit is ’n baie groot risiko – maak eerder gebruik van sekerheidsfirmas,” was sy raad.

Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof. Enigeen met inligting kan AO Anton du Preez by 028 271 8213 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article