Die polisie in Kleinmond ondersoek ’n saak van gewapende roof nadat ’n werknemer van die OK-tak op die dorp Maandagoggend van ’n groot hoeveelheid kontant beroof is.
Die werknemer was volgens berigte omstreeks 09:45 te voet op pad bank toe om die geld te deponeer toe sy in die hoofweg voorgekeer is. Adjudant-offisier Anton du Preez, Kleinmond-polisie se speurtakbevelvoerder, berig dat ’n onbekende man na bewering die vrou voorgekeer, haar met ’n vuurwapen gedreig en van die geld beroof het.
“Daar word gesoek na twee verdagtes – die een wat die geld geroof het en sy medepligtige wat die silwer Volkswagen-voertuig bestuur het. ’n Saak van gewapende roof word ondersoek,” aldus Du Preez.