Bianca Adonis is steeds getraumatiseer ná die aanval. Foto: Bianca Du Plessis


Daar was groot blydskap en ’n gejuig nadat Denver du Plessis, wat aangekla is dat hy ’n tenger vrou aangerand en petrol oor haar uitgegooi het, se aansoek om borgtog afgekeur is.

“Donderdag 14 November sal vir ’n lang tyd deur die gemeenskap van Hawston en omliggende gebiede onthou word as die dag toe die mense se geloof in die regstelsel, wat baie mense voel hulle gefaal het, weer herstel is nadat die landdros gesê het Denver du Plessis sal nie op borgtog vrygelaat word nie,” het Ilse de Villiers, die slagoffer se suster, verlede week aan Hermanus Times gesê.

Du Plessis, van Hawston, word daarvan beskuldig dat hy Bianca Adonis (42) aangerand, met ’n baksteen of groot klip teen die kop geslaan en ook petrol oor haar uitgegooi het. Die beskuldigde het volgens getuies daarna ook na Adonis se huis gegaan, haar ruite uitgegooi en na bewering ook petrol rondom die huis gegiet – vermoedelik om die huis aan die brand te steek.

Die drama het hom, afgespeel ná ’n onderonsie toe Bianca volgens getuies ’n sigaret by die beskuldigde gevra en hy haar na bewering hardhandig van sy eiendom af weggejaag het.

Bianca het in ’n vroeër onderhoud aan Hermanus Times erken dat sy tydens die struweling ’n klip na Du Plessis gegooi het en dat ’n ruit in die proses gebreek het. Volgens haar het die aanval gebeur toe sy kort daarna na Du Plessis se huis teruggekeer het om verskoning te vra.

Sy is per ambulans na die hospitaal vervoer waar sy steke aan haar kop moes kry. Sy het ook beserings aan haar arms, bors en been opgedoen.

Du Plessis is die volgende dag in hegtenis geneem en van poging tot moord, alternatiewelik aanranding met die opset om ernstig te beseer, en kwaadwillige saakbeskadiging aangekla.

Geskiedenis van geweld

Die beskuldigde het in ’n verklaring, wat deur sy prokureur in die rekord ingelees is, erken dat hy onder meer ’n vorige veroordeling vir moord het.

“Ons was geskok om te hoor hy het ’n lys vorige veroordelings vir onder meer aanranding, moord en poging tot moord wat so ver as die vroeë 1990’s terugdateer. Die meeste hiervan het verband gehou met aanvalle op vroue,” het Ilse gesê.

Haar broer Hadley Cloete het ook in die borgtogaansoek getuig dat Du Plessis se vrou na bewering ’n man gestuur het om Bianca R2 000 aan te bied in ruil daarvoor om die saak terug te trek.

“In sy uitspraak het die landdros genoem dat die ondersteuning van die gemeenskap, hoofsaaklik vroue, bewys hoe keelvol die gemeenskap vir sulke gewelddadige aanvalle op vroue is,” het Ilse gesê.

“Die landdros het ook gesê dis verbasend dat iemand met só ’n lang lys vorige veroordelings daarmee weggekom het, maar bygevoeg dit het hom uiteindelik ingehaal en dit sou in die belang van geregtigheid en die gemeenskap se veiligheid nie reg wees om borgtog toe te staan nie.”

Gemeenskap staan saam

’n Groot groep, bestaande uit lede van die gemeenskap, Hawston-buurtwag, vriende en familie sowel as verteenwoor­digers van die ACDP, DA en Alliance of Citizens for Change, het sedert Du Plessis se eerste hofverskyning by die hof vergader om die slagoffer en haar familie te ondersteun.

Hiervoor, sê Bianca se familie, is hulle baie dankbaar.

“Ons wil almal bedank vir hul onbaatsugtige ondersteuning en die opofferings wat hulle gemaak het om by die hof te wees. Dankie ook aan diegene wat betaal het vir voertuie om die mense na en van die hof te vervoer,” het Hadley Cloete gesê.

Ilse het die ondersoekbeamptes en die regstelsel bedank vir hul harde werk om te verseker dat borgtog nie toegestaan word nie.

“Dankie vir jul onbaatsugtige ondersteuning en die feit dat julle uit jul pad gegaan het om te verseker dat geregtigheid geskied en dat ons gerus kan wees dat Bianca in die feestyd veilig sal wees.”

Die familie het ook die land­dros bedank vir “die ma­nier waarop hy die saak hanteer het”.

“Na ons mening was hy baie regverdig en hy het ook die redes waarom die borgtogaansoek afgekeur is, duidelik uitgestippel. Sy besluit om die aansoek af te keur, was die antwoord op ons gebede,” sê Ilse.

Die saak is tot 13 Desember uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.