’n Groot groep mense, insluitend verteenwoordigers van verskillende politieke partye en die Hawston-buurtwag, was by die eerste hofverskyning om Bianca Adonis te ondersteun.


Die man wat aangekla word van ’n gewelddadige aanval op ’n vrou van Hawston, Bianca Adonis sal tot Maandag 11 November in aanhouding bly voordat sy borgtogaansoek voortgaan.

Denver du Plessis van Hawston het Maandag (4 November) op aanklagte van poging tot moord, alternatiewelik aanranding met die doel om ernstig te beseer, en kwaadwillige saakbeskadiging in die Hermanus-landdroshof verskyn. Sy borgtogaansoek het Woensdag 30 Oktober begin toe sy regshulp-prokureur, wat ’n beëdigde verklaring van hom waarin hy onder meer erken dat hy ’n vorige veroordeling vir moord het, in die rekord ingelees het.

In die verklaring het hy aangevoer dat hy Adonis uit sy erf gestoot het nadat sy ’n steuring veroorsaak het. Hy het die hof ook versoek om hom op borgtog vry te laat en beweer hy is sy familie se enigste broodwinner.

Die staat het aangedui synde Du Plessis van ’n Skedule 5-misdryf aangekla word, word sy borgtogaansoek teengestaan.

Du Plessis se vrou, Amanda, het ook getuig oor die gebeure wat aanleiding gegee het tot die aanval waarin Adonis aangerand en na bewering ook vol petrol gegooi is.

Volgens Amanda het sy wakker geword toe Adonis ’n klip deur die venster, waaronder sy op die rusbank gelê en slaap het, gegooi het. Sy het getuig sy weet nie wat daarna gebeur het nie aangesien sy ná die gebeure by haar niggie gaan slaap het en die volgende dag van haar man se inhegtenisneming uitgevind het terwyl sy by die werk was.

Klip

Adonis het in ’n vorige onderhoud aan Hermanus Times erken sy het ’n klip deur die ruit gegooi nadat Du Plessis haar na bewering hardhandig weggejaag het toe sy vir hom ’n sigaret gevra het. Volgens Adonis het sy, nadat sy winkel toe gestap het, teruggekeer om Du Plessis om verskoning te vra vir die voorval.

Sy het gesê hy wou nie na haar luister nie en het haar van agter af met ’n groot baksteen of klip teen die kop gegooi terwyl sy met sy dogter in ’n struweling betrokke was. Hy het na bewering ook petrol oor Adonis uitgegooi voordat sy daarin kon slaag om weg te kom. Adonis het beserings aan haar bors, arms en been opgedoen en moes ook steke in haar kop kry.

By haar huis aangekom, het sy ontdek dat al haar ruite deur vermoedelik Du Plessis uitgegooi is en dat hy na bewering petrol om haar huis uitgegooi het.

Nes met Du Plessis se vorige hofverskynings het ’n groot groep inwoners van Hawston Maandag weer opgedaag om die slagoffer te ondersteun.

Die raadslid, Elnora Gillion, wat ook Maandag by die hof was, sê hoewel enigeen om borgtog aansoek kan doen, voel die gemeenskap dis beter dat die beskuldigde nie op borgtog vrygelaat word nie omdat hy na bewering ’n geskiedenis van gewelddadige gedrag het.

“Bianca en haar kinders is reeds erg getraumatiseer en as die beskuldigde op borgtog vrygelaat word, sal dit hulle nog meer traumatiseer, al gaan hy by ’n alternatiewe adres in Mount Pleasant woon,” het Gillion gesê. “Ek wil die gemeenskap weer eens bedank vir hul ondersteuning aan Bianca by die hof. Die gemeenskap ken sy geskiedenis en weet tot watter gewelddadige gedrag hy in staat is as mense hom ‘cross’.”

Adonis se suster, Ilse de Villiers, sê Du Plessis het voorheen ’n boete betaal nadat sy ’n klagte teen hom aangemeld het na hy haar na bewering met ’n vurk probeer steek en met klippe gegooi het.

“Hy moet definitief nie bail kry nie; hy moet verantwoordelikheid neem vir sy dade en daarvoor boet,” het Ilse gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.