G’n genade vir inwoners

Die Kwêla se Dorp van die jaar-wenner, Greyton, se bure suig glo aan die agterspeen.


Die Kwêla se Dorp van die jaar-wenner, Greyton, se bure suig glo aan die agterspeen.

Inwoners van Genadendal (veral dié in wyk 2) is sielsongelukkig – nie net oor dienslewering nie, maar ook omdat hulle glo deur die munisipaliteit “misgekyk” word.

Volgens Japie Giliomee, ’n kampvegter van die gemeenskap, bestaan dienslewering nie in Genadendal nie. “Ons het op 5 Desember verlede jaar ’n hewige wolkbreuk in Genadendal gehad wat baie dakloos gelaat en infrastruktuur in die dorp beskadig het. Verlede Sondag, 9 Januarie, het ’n haelstorm ons getref, en dit was dieselfde storie. Ons het geen ondersteuning gekry nadat infrastruktuur beskadig is nie. Ná Sondag se haelstorm is vinnig ingespring om Greyton op te ruim, maar in Genadendal het niks gebeur nie,” kla Giliomee.

Volgens Giliomee is voetbrûe, wat al verlede jaar ná swaar reën in die slag gebly het, nog nie herstel nie. “Die skool begin volgende week en steeds word niks aan ons infrastruktuur gedoen nie. ’n Kind het boonop Woensdagaand hier verdrink (sien berig op bladsy 3). Dit moet ’n eye opener vir die munisipaliteit wees. Ek hoop hulle gaan nou iets aan die omstandighede doen.”

Die reën het nie net skade aan ver­skeie huise en die infrastruktuur ver­oor­saak nie, maar ook van die oudste kleuterskole in die dorp, Educare, beskadig.

Ná vele oproepe en selfs die beplan­ning van ’n betoging waar inwoners hul misnoeë uitgespreek het, het belange­groepe hulle tot die Menseregtekom­missie gewend.

“Die Menseregtekommissie het ’n vergadering vir Woensdag 12 Januarie belê, en ek is bly om te sê dat die TWK-burgemeester, Kallie Papier, en die onderburgemeester, John Michels, sowel as die raadslede Chris Cloete, Caroline Wood en Marie Hector, die vergadering saam met 150 inwoners bygewoon het,” sê Gilomee.

“Van die punte vir bespreking op die agenda wat aangeraak is, was die stormwaterype wat nie gereeld nagesien word nie, watertoevoer wat gewoonlik dae lank af is ná oorstromings, min of geen dienste ten opsigte van verspoelde paaie en huise, Greyton wat voorkeur­behandeling ontvang, foutiewe straat­ligte wat nie herstel word nie en laewaterbrûe wat nie herstel word nie.

“Ander punte wat ook onder die TWK-munisipaliteit se aandag gebring is, is dat sommige paaie hoër is as die fondasies van huise, en dit veroorsaak dat huise ná reën oorstroom; die dorpsbestuur wat nie aandag aan die versoeke gee nie; asook e-posse en klagtes wat nie opgevolg word nie. Hier is ook geen geriewe vir kleiner kinders in wyk 2 nie,” vertel Giliomee.

Volgens hom was hy baie bly om te hoor die amptenare het gehoor gegee aan die probleme en het onderneem om so spoedig as moontlik aandag hieraan te gee. “Ek kan net sê ek is dankbaar vir die feit dat die munisipaliteit gesê het hy wil elke tweede maand ’n verga­dering met die inwoners hou om na die stand van sake te kyk. Dit is goeie nuus en ons beweeg nou in die regte rigting. Genadendal is ’n unieke dorp met baie erfenis wat ons vir ons nageslag moet bewaar. Maar as die munisipaliteit nie na ons klagtes luister nie, gaan ons die erfenis verloor.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.