Dit sit nie in enigeen se broek om aan die veeleisende Ysterman-driekampkompetisie deel te neem nie, wat nog te sê om dit vir alle praktiese doelein- des in 12 ure te voltooi. Dit is presies wat Godfrey Gillion van Hawston reggekry het toe hy die kompetisie in 12 ure en een minuut (12:01) voltooi het.
“Die een minuut was toe ek gestop het om my vrou, Joy, te soen, my Hawston- Skrik vir Niks-vlag te kry en ‘n Maxitec-fietsryhemp aan te trek, anders het ek dit in onder 12 ure voltooi,” spot dié “yster” van Hawston.
Hoewel dit die eerste keer was dat Gillion aan die Ysterman-kompetisie deelgeneem het, spog hy met die feit dat hy in die 225ste posisie uit altesaam 723 deelnemers en 15de uit 82 deelnemers in die 45-49-ouderdomsgroep vir mans geëindig het.
Dié gewilde sportgeleentheid, wat jaarliks honderde deelnemers van oor die land heen sowel as internasionale ultra-atlete lok, vertel Gillion, was ‘n onvergeetlike ervaring wat elke seer spier en al die opofferings en ure van oefen die moeite werd gemaak het.
“Wat ‘n experience! Dit was fantasties,” was sy mening. Die driekamp behels dat atlete 3,8 km in die see moet swem, gevolg deur 180 km op ‘n fiets ry voordat hulle ‘n marathon van 42 km moet hardloop. Deelnemers het slegs 17 uur om al die items te voltooi sodat hulle met die gesogte IronMan-medalje om die nek kan spog. Die oopsee-swem, vertel Gillion, was gewis nie sy gunstelingitem of sy beste vertoning nie. “Dit was meer ‘n mental uitdaging vir my. Ek het myself ge-pace; ek wou net die cut-off van twee ure haal.”
Sy liefde vir hardloop het hom gehelp om die marathon in 03:32 kaf te draf. “Dit was die lekkerste! Al die mense langs die pad en die braaivleisreuk wat in die lug gehang het… Ek het die opdraandes gevoel, maar vir myself gesê ‘just stay in the moment’. Die fietsry was vir my ook maklik, want ek is gewoond aan ver ente ry,” sê die atleet.
Lewenslange droom
Gillion het hard vir die Ysterman begin oefen nadat hy in September aan die Voet van Afrika-halfmarathon (21,1km) deelgeneem het. Die droom om aan die Ysterman-kompetisie deel te neem spook egter al van jongs af by dié boorling van Hawston.
“Dit het my gefassineer, maar ek het gewonder hoe gaan ‘n laaitie van Hawston, waar rugby die main ding is, aan só iets kan deelneem,” vertel hy. Hy het egter nie toegelaat dat dié onsekerheid in die pad van sy Ystermandroom staan nie. Godfrey het met vasberadenheid, deursettingsvermoë en toegewydheid plus daardie ekstra “push” van ondersteuning van sy familie, die gemeenskap, sy werkgewers en borge begin om homself nie net liggaamlik nie, maar ook geestelik, vir die uitmergelende Ysterman-kompetisie voor te berei.
“Ek bly by die see, dus het ek nie baie vir die swem geoefen nie. Ek het wel ‘n paar keer in Hawston se Olimpiese swembad geoefen waar Worsie en sy personeel baie tegemoetkomend was as ek bietjie laat moes oefen,” vertel Gillion.
Wat voorbereidings vir die fietsry en draf – sy twee gunstelinge – betref, het Gillion alles ingesit. Hy het ‘n bekende gesig langs die R43 tussen Hawston en Hermanus geword aangesien hy elke oggend óf werk toe gedraf óf fietsgery het. “Ek het een dag gedraf en die volgende fietsgery en net so nou en dan geswem,” bieg hy.
“Elkeen se toet-toet en vriendelike groet as hulle verby my ry… ek sou dit gewis nie sonder Hawston se mense en my borge se ondersteuning kon gedoen het nie.
“Dis hoekom ek met my Skrik vir Niks-vlag en my hemp met Maxitec, my hoofborg, se kenteken oor die wenstreep gehardloop het,” vertel hy.
“Baie dankie aan my familie – my kinders Jayden, Tayla en Liam, my ma, Belinda, en veral my vrou, Joy – vir hul ondersteuning al het hulle my die afgelope paar maande amper nie gesien nie omdat ek so hard geoefen het. Ek is ook baie dankbaar vir die Here vir die krag en moed, want sonder Hom aan jou sy kan jy niks doen nie.”
Op die vraag of hy weer die Ysterman sal aanpak, het Gillion net laggend geantwoord: “Vra my weer wanneer my spiere nie so seer is nie!”
Ten spyte hiervan droom hy intussen al daarvan om terug te keer om sy tyd in veral die swem-item te verbeter.
“Ek wil graag die jeug – al is dit net my eie kinders – inspireer en vir hulle ‘n positiewe rolmodel wees om te wys jy kan jou drome laat waar word as jy net hard werk en nooit moed opgee nie,” het hy afgesluit.
