Die koalisie tussen Good, die ANC en Patriotic Alliance (PA) is in troebel water in die Theewaterskloof-munisipaliteit omdat die ANC en DA blykbaar nou hier saamwerk.
John Michels, onderburgemeester en Good-koukusleier, het Vrydag op ’n raadsvergadering gesê die party gaan hom aan die koalisie in die Overberg-distrik onttrek.
Good was die enigste party wat nie daarmee saamgestem het dat die pos vir ’n munisipale bestuurder weer geadverteer moet word nie. Dit was nadat Wilfred Solomons-Johannes, oor wie se aanstellingsproses ’n dispuut ontstaan het, sy laaste werksdag op 22 Junie voltooi het.
Ingevolge ’n hofbevel wat ’n ooreenkoms tussen Solomons-Johannes en Anton Bredell in sy hoedanigheid as die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering bekragtig het, sou Solomons-Johannes se dienstydperk outomaties tot ’n einde kom indien ’n formele aanstelling in die pos nog nie gedoen is nie. ’n Oplossing oor die aanstelling van ’n waarnemende munisipale bestuurder het die damwal laat breek toe 22 raadslede daarvoor gestem het en die drie Good-raadslede dit nie wou aanvaar nie. Michels het pleks van die besluit van die partye se twee koalisievennote te ondersteun, eerder ’n mosie van wantroue teen die burgemeester, Mary Liebenberg, ingestel.
Hierop het die speaker, Derick Appel van die ANC, aangedui die proses vir die mosie van wantroue is nie gevolg nie en Michels se versoek geweier.
Brett Herron, die sekretaris-generaal van Good, het Sondag gesê die party neem kennis van die optrede van sy koalisievennote in die TWK.
“Dit is ’n optrede wat selfverduidelikend ’n verbreking van die samewerkende regering en dus die koalisie is,” sê Herron.
Hy sê dit is Good se beleid oor koalisies dat die party onafhanklik bly en slegs in koalisies gaan waar die party nodig is om ’n regering te vorm.
Reynold Stevens neem nou waar as munisipale bestuurder.
Die ANC-koukus in Theewaterskloof het Saterdag in ’n verklaring gesê dit was slegs sy koalisievennoot, Good, wat teen Stevens se aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder gestem het, “wat gevolg het op hul mislukte mosie van geen vertroue in die huidige burgemeester wat van die PA – nog ’n koalisievennoot – is”.
Die ANC sê hy hoop en vertrou die misverstand sal ter wille van stabiliteit en dienslewering uitgestryk word en het Solomons-Johannes vir sy bydrae tot die munisipaliteit bedank.
Die DA het by monde van Isaac Sileku gesê die DA sal sy toesigrol in die raad met ywer vervul en verseker dat die munisipale bestuurder sy pligte nakom met die klem op uitstekende dienslewering. Sileku sê die DA sal ook die aanstelling in die kritieke pos monitor. Indien enigiemand wat vir die aanstelling verantwoordelik is, “poog om weer die wet te omseil, sal hulle verantwoordbaar gehou word”.
Solomons-Johannes het by navraag gesê hy gaan nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.