Dit voel soos nou die dag toe inwoners van Grabouw hul misnoeë
op televisie uitgespreek het rakende die waterprobleme. Om presies te wees was
dit die dag ná Wêreldwaterdag op 23 Maart toe inwoners gemor het oor die bruin
vuil water.
Destyds het die Theewaterskloof-munisipaliteit (wat uit ‘n
koalisie van die PA, ANC en GOOD bestaan), die skuld op die vorige beherende
DA-raad geplaas wat volgens hulle nie instandhoudingswerk gedoen het nie. Maar
vandag ses maande later sukkel die inwoners van veral Pineview en Rooidakke
steeds met water.
“Dit is nou al 11 dae wat ons aan en af water het, en as
daar water is, is dit bruin of spierwit van al die kalk. Dit is ‘n heen en weer
geliegery. Eers het hulle die beurtkrag die skuld gegee, toe is dit die
onderhoudswerk en ek wonder wie gaan nou die skuld kry,” het Isabel Bailey, ‘n
gemeenskapsleier wat in Pineview-Noord bly, gesê.
Een van die DA-raadslede,
in Grabouw, Sammy Fredericks het die gemeenskap gevra om water vir van die
buurte te skenk. “Ons as inwoners word deur dieselfde probleme geteiken en ek vra
dat julle kan help waar julle kan. Kom ons vat hande en help om die druk wat
die watersuiweringsplant af te neem,” het hy op ‘n Facebook-boodskap gesê.
Vanoggend het die TWK op sy Facebookblad gesê die huidige
reservoirvlakke vir Grabouw is as volg: Laer Steenbras (55%), Uitkyk (0%) en Bo
Steenbras (0%). “Ons pomp tans na die Laer Steenbras- en Uitkyk-reservoir en
watertrokke sal die geaffekteerde gebiede bedien,” het die boodskap gelees.
Bailey sê daar is al hulp vir die raad aangebied om die probleem
op te los. “Daar was mense wat hulp aangebied het, maar vir ons leiers gaan dit
nie oor die mense nie, maar hul posisies. Ons vergader later vanmiddag almal
saam om ons misnoeë teeoor David Williams van die Menseregtekommissie uit te
spreek,” het sy afgesluit.