Goeie samewerking tussen polisie en sekerheidsmaatskappye het daartoe gelei dat twee van die drie verdagtes in hegtenis geneem is wat gister ‘n geldkas by Nedbank in Grabouw gesteel het.
Volgens die woordvoerder van Grabouw-polisie, kaptein Raldene Atson, is ‘n sekerheidsbeampte van Fidelity Gaurd gister omstreeks 15:25 in die kop geskiet nadat hy geld by Nedbank in die dorp afgelewer het. “Drie onbekende mans het hom genader, hom geskiet en met die geldkas weggevlug,” het sy gesê. Volgens haar het hulle op vlug geslaan en ‘n motorbestuurder in Hoofstraat met die vuurwapen gedreig in ‘n poging om sy motor te kaap. “Die bestuurder het sy sleutels in die pad gegooi en terwyl een van die verdagtes daarna soek, het die eienaar van die voertuig drie skote met sy private vuurwapen op hulle gevuur. Hulle het ‘n ander motor gesoek en ‘n swart Volkswagen golf gekaap,” het sy gesê.
Die voertuig is later verlate in Lwandle in Strand gevind. “Ons is bly om te sê dat twee van die verdagtes in Khayelitsha aangekeer is. Die een verdagte het ‘n skietwond aan sy been,” het Atson gesê. Die sekerheidswag is in die hospitaal opgeneem en sterk goed aan.