Of dit nou iets in Grabouw se water is, of dalk die appels, weet niemand nie, maar die jeug van Grabouw blink in rugby uit.
Die jong Michail Damon, ’n oudleerder aan die Hoërskool De Villiers Graaff in Villiersdorp en wat nou vir Hoërskool Garsfontein in Pretoria uitdraf, het nie net die Blou Bulle in die Cravenweekspan verteenwoordig nie, maar ook ’n kontrak by die Blou Bulle-rugbyunie onderteken.
Nou het nog ’n eer hom te beurt geval toe hy vir die SA Skolespan gekies is. “Ons is oorstelp van vreugde; ons kan dit nie glo nie,” het Michail se ouers, Paddy en Emerentia, gesê. “Sy harde werk het werklik vrugte afgewerp.”
Michail het in ’n televisieonderhoud gesê dit is ’n doelwit wat hy vir homself gestel het om ’n kontrak by die Blou Bulle los te slaan. “Dit voel so goed,” het hy tydens die onderhoud gesê. Hy wil ook graag vir die Springbokke speel en sy talent vir die res van die wêreld wys. “Hou jou mindset reg, werk hard en hou die geloof dat die Here jou paaie vir jou reguit sal maak. Ek het hard gewerk om te kom waar ek vandag is. Sonder die ondersteuning van dié wat vir my lief is en omgee, sou ek nie bereik het wat ek nou bereik nie,” was sy boodskap vir jong opkomende rugbyspelers.
Die onderburgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, John Michels, het op sy Facebookblad die volgende gedeel: “Graag wil ek as onderburgemeester vir Michail Damon, seun van Paddy Damon van Grabouw, gelukwens met sy insluiting in die Suid-Afrikaanse skolespan. Dit is regtig ’n prestasie om op trots te wees. Michail, dankie dat jy Grabouw en Theewaterskloof se vlag hoog laat waai. Ons is trots op jou. Ons wil jou sterkte toewens op jou pad vorentoe. Grabouw lewer hierdie jaar regtig uitstekende rugbytalent op met baie van ons jongmense wat die hoogste prestasies in rugby behaal. Jongmanne en -vroue, ons is trots op julle”.
Carlton Banies, ook ’n Grabouwer, is in die junior Springbokspan opgeneem. Carlton, ook ’n oudleerder aan Hoërskool Garsfontein, het ook ’n kontrak by die Blou Bulle losgeslaan. Volgens dié losskakel is dit elke rugbyspeler se droom om raakgesien te word. “Vir my gaan dit nie oor potensiaal nie, maar oor die harde werk agter die skerms,” het hy tydens ’n onderhoud gesê. Net soos Damon, was hy ook eers ’n leerder aan die Hoërskool De Villiers Graaff voordat Hoërskool Garsfontein sy talent raakgesien het. “Ek is so dankbaar vir die twee skole wat my gehelp het om te kom waar ek vandag is. Sonder hul ondersteuning sou ek dit nooit kon regkry nie,” het hy gesê.
Volgens hom vervul sy pa, Ricardo, en sy ma, Ophelia, ’n groot rol in sy lewe en het hulle bygedra tot die sukses wat hy vandag bereik het.
Hy wil ook eendag vir die Springbokke speel en sy land, sy mense en veral sy tuisdorp trots maak.
Die nuutste toevoeging tot die Blitsbokke, Dalvon Blood, was nou wel in Hoërskool Rondebosch, maar hy sal nooit sy tuisdorp, Grabouw, vergeet nie. Blood het ook vir die SA Skolespan uitgedraf en was ook ’n junior Springbok, maar toe Marius Schoeman, die Blitsbokke se bestuurder, hom in Mei kontak, het sy lewe drasties verander en is hy in die Blitsbokke se span opgeneem. Selvyn Davids, een van die Blitsbokke, is beseer en Blood moes sy man staan en wys wat in hom steek.
Ná skool het Blood by die Blitsbokke se akademie in Stellenbosch aangesluit en saam met die res van die Blitsbokke geoefen.
“Dit was harde werk. Ek moes saam met bekendes oefen, maar dit het my gemaak wat ek vandag is,” het Blood gesê.
Hy geniet elke oomblik daarvan om ’n lid van die span te wees en glo hy gaan nog groter hoogtes bereik.
Grabouw-inwoners was baie trots toe hulle hoor dat die jong Blood die dorp bekend maak.
“Dis vir ons ’n eer om te kan sê hy is van Grabouw. Hy is baie nederig en het nooit sy herkoms vergeet nie,” het ’n inwoner gesê.