Van die bekende gesigte by Greyton Makietie.


As jy die wenner van Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie is, moet daar behoorlik fees gevier word. En dít is presies wat Greyton, Kwêla Dorp van die Jaar 2021, die naweek van 11 en 12 Februarie gedoen het tydens die Greyton Kia Makietie.

 Die gewoonlik rustige Greyton het oor die naweek behoorlik uit sy nate gebars en die feestelike atmosfeer was duidelik te bespeur. Besoekers sowel as die inwoners het die geleentheid gebruik om van Suid-Afrika se bekendste musikante soos, Corlea, Anna Davel, Refentse, Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke en verskeie ander in aksie te sien. Gaste het ook die geleentheid gehad om die Kwêla-aanbieders Hannes van Wyk en André Weideman te ontmoet. Van Wyk het ‘n Sielskos-vroueoggend aangebied, wat ook deur verskeie mans bygewoon is. Sy gemaklike manier van praat het die gehoor nie net by tye laat skater van die lag nie, maar ook stof tot nadenke gegee. 

Vier akteurs van die gewilde sepie Suidooster, het vir groot opgewondenheid gesorg nie net in Greyton nie, maar ook in Genadendal, waar hulle aanhangers ontmoet het. Dean Smith (Wade), Gantane Kush (Dr Siya), Eden Claasen (Justin) en Natasha van der Merwe (Susan) het heerlik informeel met aanhangers gesels, vrae beantwoord en geposeer vir foto’s. 

Dié Makietie sal beslis nog lank onthou word. 

You need to be Logged In to leave a comment.