“Ek het niks van koffie geweet toe ek as kelnerin begin werk het nie. By die huis het ons het kitskoffie met baie verromer in geklits dat die skuim so staan, en dit cremacino genoem,” vertel Soa Delport-Sauls, Greyton se onbetwiste koffiekoningin, wat nou haar eie koffiewaentjie besit.
Soa is in Paternoster gebore, maar woon van haar eerste skooljaar af in Greyton, “want my ma se mense is van hier”.
“Ek het by die Post House, waar ek gewerk het, ’n boek gesien met mooi prentjies in. Een prentjie was van ’n flat white met ’n varingblaar-ontwerp bo-op. Ek wou daai koffie maak. Die eienaar het gesê die een wat die beste blom gooi, kry ’n bonus. En daar wen ek toe.”
Net daar het die koffiegogga Soa gebyt. Sy het saam met David Donde, die destydse eienaar van die Post House, begin koffie rooster. “Dit was ’n manual rooster. Ons moes self die skoorsteen uitgesit het en moes heeltyd by die rooster bly. Jy moes die kleur van elke verskillende koffie ken en jy moes weet wanneer die bone moes uitkom.”
Ná sewe jaar by Via’s het Robert Laurie, die eienaar, vir Soa gevra of sy dink hulle moet ook self koffie rooster. ’n Sonkrag-rooster is toe pas bekend gestel en aangeskaf.
“Hulle het my op ’n driedagkursus gestuur, wat ek toe in drie ure gedoen het en hulle gevra het hulle moet my terugneem Greyton toe.
“Ek rooster nou en maak ook al my eie blends. Ek het nou vyf blends. Ek het klante van oor die land heen en selfs oorsee in Malta. Ons kry die groen koffiebone, wat soos peanuts lyk, van ’n bekende verskaffer, en hier rooster ek hulle dan en maak my blends.”
Soa was vir drie jaar in ’n koffiewaentjie-vennootskap met iemand en het elke Saterdag op die Greyton-mark koffie verkoop, asook by saamtrekke en groot fietswedrenne.
Maar nou is sy die trotse eienaar van haar eie koffiewaentjie.
Van haar klante en mense in die Greyton-gemeenskap het gehelp om die droom te bewaarheid – ’n bewys van hoe geliefd Soa in die gemeenskap is.
“Ek was nog besig om aan die waentjie te beplan, toe word hy al daar by die Caledon-afdraai uitgesleep. Dit was my beste dag nog. Dit was ’n droom wat waar geword het en ek kan nie genoeg dankie sê vir die mense wat my gehelp het om dié droom van my te bewaarheid nie. Dis nou my eie waentjie.”
Soa onthou mense se voorkeure as dit by koffie kom. Al kom hulle ’n jaar later, onthou sy wat hulle drink. “Ek merk jou eintlik met jou koffie en jou suiker.”
Ná net twee maande op haar eie gaan dit goed met die onderneming. “Ek kon vir my al twee pare splinternuwe tekkies koop. Ek het drie jaar laas nuwe skoene gehad. Die pad vorentoe is nou oepe,” vertel ’n opgewonde Soa.
Synde dit Vrouemaand is, vra Hermanus Times haar watter raad sy vir vroue het. “Moenie dat ek met die vroue begin nie. Hulle maak my kwaad. Vroue moenie by die huis sit en niks inkomste hê nie. Vroue moet leer om onafhanklik te wees. ’n Man en ’n vrou is equal in my opinie. Jy kan jou droom slegs bereik as jy wil. Wat jy insit, kry jy uit.”
Haar jonger suster, Mer Coetzee, sê: “Soa is ’n inspirasie vir my. Wat sy bereik het wys vir my the sky is the limit.”
Wees gerus op die uitkyk vir Soa se koffiewaentjie met sy kenmerkende kenteken by die Greyton-mark op ’n Saterdagoggend.