Groenberg-jukskeiklub vier 40 jaar

Groenberg-jukskeiklub het sy 40 ste verjaardag aan die einde van verlede jaar gevier.


Groenberg-jukskeiklub het sy 40 ste verjaardag aan die einde van verlede jaar gevier.

Spanne van oor die Wes-Kaap en Worcester heen het aan die spesiale kompetisie deelgeneem.

“Die 64 spelers het die terrein aan die einde van die dag met goeie herinneringe verlaat. Dit was dus gepas dat die geleentheid met iemand soos Jackie Nichols, die voorsitter van die Overberg-sportraad, geopen is. Jackie het ’n inspirerende toespraak gelewer, wat ’n mens laat besef het Overberg-sport is in die regte hande,” het Krynauw du Toit van Groenberg-jukskeiklub gesê.

Volgens Du Toit is Groenberg-jukskeiklub in 1984 deur Jan Smit gestig. “Vroeër jare was baie bekendes in jukskei-kringe, soos Jan Pieterse, Stella Geldenhuys, Jaco Botes, Poppie Marais, Toeks Botha, Johan du Preez, en Willie Marais – wat steeds by die klub is – betrokke. Die klub het tot een van die groot suksesse in die Overberg- distrik gegroei en beskik vandag oor ’n bekwame bestuur wat groot geleenthede soos hierdie met styl kan aanbied,” sê Du Toit.

Die wedstryde wat tydens die feesvieringe gespeel is, is met erns aangepak. “Omdat dit nie ’n ligakompetisie was nie, het spanne in die gees van die dag met name soos Vriende (A-afdeling-wenners), Bloublasies (B-wenners) en Piet-my-vrou (C-wenners) bo uitgekom,” vertel Du Toit.

Die ligaseisoen begin reeds vroeg dié jaar en tans is Gansbaai en Kleinmond die voorlopers in die A-afdeling. Kleinmond is ook boaan die punteleer in die B-afdeling, met Bettysbaai en Groenberg wat dit nog in die ander afdelings moet uitspook.

Struisbaai is ook besig om sterk na vore te tree in die kompetisie.

You need to be Logged In to leave a comment.