Die gemeenskap van Grabouw het onlangs gewys wat vermag kan word as inwoners saamstaan en mekaar ondersteun.
Grondgrypers het Saterdag 29 Januarie probeer om die oop stuk grond langs die sportterrein van Hoërskool Grabouw te beset. Dié grond wat as Gypsy Queen bekend staan, is in private besit en is al vir ’n lang tyd onbewoon.
Volgens gerugte is die Theewaterskloof-munisipaliteit in die proses om die grond oor te koop.
Nadat berigte op sosiale media die ronde gedoen het van dié grondgrypers, het inwoners van die nabye buurt by die oop stuk grond bymekaargekom, met die onwettige plakkers probeer onderhandel en die vullis op die grond begin optel. “Ons is dankbaar dat die verkeersafdeling en die polisie ook op die toneel was. Dankie aan ieder en elk wat bymekaargekom het om dié onwettige grondbesetting te keer,” het ’n dankbare inwoner genoem.
Gemoedere het hoog geloop toe die onwettige plakkers meegedeel is dat dit private grond is wat hulle probeer beset. “Die grond is almal se grond en ons het die reg om dit te gebruik,” het een van die plakkers gesê.
’n Ander inwoner wat ’n struktuur daar wou oprig, beweer daar is ’n boodskap wat die ronde doen op Facebook dat die EFF glo inwoners aanhits om grond, wat nie gebruik word nie, te beset.
Dit blyk ook dat van die grondgrypers reeds huise in Grabouw het en dat hulle die strukture wat hulle op Gypsy Queen sou oprig, wou uitverhuur of verkoop. Hermanus Times wou kommentaar van die woordvoerder van die grondgryperes verkry, maar volgens die mense op die toneel het hulle nog nie ’n leier aangewys nie en sou hulle die aand bymekaarkom om ’n leier aan te wys.
Dit is ook nie die enigste oop stuk grond in Grabouw wat in die visier is van grondgrypers nie. Volgens gerugte is die grond naby die spoorlyn en naby Umyeso Sekondêre skool ook in gedrang en het van die onwettige plakkers al die grond aan die brand gesteek sodat hulle daar kan bou. Inwoners van omliggende gebiede het ook hul misnoeë rakende die voorval uitgespreek.
Van die skrywe op Facebook beweer dat die grond vir R500 ’n erf verkoop word.
Volgens die Theewaterskloof-munisipaliteit by monde van die burgemeester, Kallie Papier, is daar planne daargestel om die gronde te beskerm. “Dit is ongelukkig die tyd van die jaar. In die geval van Gypsey Queen is daar ’n interdik op die stuk grond en gaan ons alles in ons vermoë doen om die grond te beskerm.
Dié stuk grond is geoormerk vir behuising.”
Die gemeenskap het die verkeersdepartement en die polisie bedank wat vinnig op die toneel was asook afgevaardiges van die Theewaterskloof-munisipaliteit wat die saak beredder het.
Verlede jaar het grondgrype ook sy kop uitgesteek en inwoners van die buurt naby Gypsy Queen, het ’n petisie rakende die stuk grond aan die destydse burgemeester van TWK, Christelle Vosloo, oorhandig. Die petisie het gehandel oor die oop stuk grond en inwoners se teenstand teen nog ’n informele nedersetting.. Die Theewaterskloof-munisipaliteit sou Maandag ’n formele persverklaring rakende die situasie uitgereik het, maar teen druktyd is daar nog niks ontvang nie.