Altesaam 17 gesinne van Riemvasmaak het al hul besittings in die verwoestende brand verloor.


Altesaam 17 gesinne is haweloos gelaat nadat hul wonings in Riemvasmaak, Caledon, Saterdag afgebrand het.

Kallie Papier, die uitvoerende burgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, sê die oorsaak van die verwoestende brand kon nog nie vasgestel word nie.

Papier, tesame met die onderburgemeester, John Michels, en die speaker, Derick Appel, was Saterdagaand op die toneel waar die brand nege strukture in puin gelaat het.

“Verblyf is vir die gesinne gereël, maar hulle het verkies om by familie en vriende te bly. Die munisipaliteit het kospakkies en starter-packs (houtpale en sinkplate) aan die betrokke gesinne voorsien. Stootskrapers het ook die gebied skoongemaak sodat die families kon begin om hul strukture te herbou,” berig die burgemeester.

Papier het sy dank aan die nieregeringsorganisasie One Billion Rising SA uitgespreek, wat warm maaltye en ontbyt aan die slagoffers voorsien. “Tanya Bippert van dié organisasie is van groot hulp. Dit maak my baie trots om te sien hoe die gemeenskap uitgereik het om te help,” het Papier bygevoeg.

Die grootste nood, sê hy, is klere, beddegoed, meubels en ander huisraad.

“One Billion Rising is besig met ’n vakansieprogram in die omgewing. Hulle het vir vyf van die kinders geskenkpakkies met skoolklere en skryfbehoeftes gegee.”

Enigeen wat klere of ander benodigdhede wil skenk, kan dit by die kleuterskool in Riemvasmaak aflaai.

Terwyl die brandslagoffers besig was om hul huise te begin herbou, het inwoners van Genadendal en Greyton groot skade gely nadat talle huise Sondag oorstroom het.

Papier, tesame met ander politieke leiers en beamptes van die TWK, het die gebied Maandag besoek om ’n bestekopname te doen.

“Buiten die haelskade en huise wat oorstroom het, is infrastruktuur soos paaie, brûe en slote ook beskadig. Ons moet na langtermyn-oplossings kyk om die probleem die hoof te bied, want dit het vantevore ook gebeur,” sê Papier.

You need to be Logged In to leave a comment.