Dele van Hawston is Saterdag sonder krag gelaat nadat vyf kragbokse in die dorp deur vandale uitgebrand is.
Hawston gaan reeds ’n geruime tyd al onder dié probleem gebuk.
Inwoners bespiegel dat misdadigers die infrastruktuur beskadig en/of aan die brand steek sodat hulle makliker toegang tot die koperkabels kan kry, wat hulle dan steel en vermoedelik verkoop.
Arnie Africa, die raadslid van wyk 8, het bevestig dat vyf kragbokse in verskillende dele van Hawston Saterdag 5 Maart in die vroeë oggendure aan die brand gesteek is.
Volgens Africa se boodskap, wat op sosiale media gedeel is, beloop die skade ongeveer R250 000.
’n Aantal ander kragbokse in die dorp moes ook die afgelope paar naweke vervang word nadat dit deur vermoedelik misdadigers wat koperkabels steel, aan die brand gesteek is. Volgens Africa sal ’n gemeenskapsvergadering binnekort gehou word om dié soort probleme en moontlike oplossings te bespreek. Hy het ook bygevoeg dat daar al 12 bokse gevandaliseer is.