Die 15de Wêreld-hardopleesdag is op 5 Februarie met groot sukses in die Theewaterskloof-omgewing gevier.
LitWord, ’n organisasie sonder winsbejag, het die eerste Wêreld-hardopleesdag in 2010 bekendgestel om kinders en gemeenskappe deur die krag van stories te versterk. Dié dag word jaarliks op die eerste Woensdag in Februarie in meer as 170 lande gevier.
Al die biblioteke in Theewaterskloof het na skole en dagsorgsentrums in hul omgewings uitgereik om stories aan kinders voor te lees. Sybil Lee, hoof van TWK-biblioteke, het saam met personeel van die Caledon- en Botrivier-biblioteek verskeie dagsorgsentrums asook die Groeneweide-dienssentrum in Botrivier besoek waar stories deur personeel voorgelees is.
Die kleuters van Doringrosie-dagsorg in Botrivier het Aidan Apollis, ’n YeBoneer verbonde aan die Botrivier-biblioteek, se voorlesing so geniet dat toe hy klaar was hulle soos een man “nog ’n boek” uitgeroep het.
In Caledon het biblioteekpersoneel twee kleuterskole asook The Glebe Primêr in Myddleton en Swartberg Primêr besoek.
Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek sê: “Lees verbreed jou woordeskat en sodoende leer jy nuwe woorde aan. Hardopleesdag is daarop gemik om die kind bewus te maak van lettergrepe asook klank.”
Van Wyk noem hulle het 392 kinders bereik, van wie 255 graad 6- en graad 7-leerders by Swartberg was.
Malinda Booysen van Swartberg Primêr het die blink idee gehad om oudonderwysers van Swartberg te nooi om vir die leerders voor te lees.
Sodoende is, tesame met die biblioteek, al 1 100 leerders betrek by hardopleesdag. Die oudonderwysers wat deelgeneem het, was Edna Vashu, Stephen Wildschut, Georgina Simons, Martha Willemse, Agnes Stewart, Johanna Witbooi en Kathy Conradie.
Lee noem aan Hermanus Times die TWK-biblioteke het vir 3 500 kinders gelees. Botrivier-biblioteek het met 899 die meeste kinders bereik, gevolg deur Greyton-biblioteek wat vir altesaam 800 kinders gelees het.