Die soektog na ’n jong seun wat Woensdag
in die Gansbaai-hawe onder die see verdwyn het, het hartseer geëindig toe sy
liggaam gister gevind is.
Volgens die Gansbaai-polisie het
die 10-jarige seun van Blompark Woensdag (17 Junie) met maats op dolosse by die
hawemuur gespeel toe hy omstreeks 16:05 in die water geval het.
Deon Langenhoven, bevelvoerder
van die NSRI Hermanus-stasie, berig dat die seereddingsinstituut omstreeks
16:44 geaktiveer is. Die reddingsvaartuig Rotarian Burnett is geloods en die
EMS-nooddienste sowel as die polisie is ook na die toneel ontbied.
Volgens Langenhoven het die NSRI
met hul aankoms in die hawe gevind dat plaaslike duikers reeds die soektog na
die vermiste seuntjie van stapel gestuur het. Polisieduikers het ook later by
die soektog aangesluit.
Die seuntjie se liggaam is
Donderdag kort na 13:00 gevind, volgens berigte omtrent 30 meter van die plek
waar hy in die water geval het.
Kaptein Piet Franse, waarnemende
bevelvoerder van die Gansbaai-polisiestasie, het bevestig dat die seun se
liggaam Donderdagmiddag gevind is.
“Die seun se ouers sal Vrydag
die uitkenning doen,” het Franse bygevoeg.