Leerders van Hawston Primêre Skool het onlangs geleer hoe belangrik dit is om voorbereid te wees vir ’n ramp – en wat om in die geval van ’n noodgeval te doen – toe beamptes van Overstrand se rampbestuursentrum die skool besoek het.
Die spesiale bewusmakingsdag is op 17 Februarie deur die Overstrand- munisipaliteit in samewerking met die Wes-Kaapse rampbestuursentrum (PDMC) in Hawston aangebied.
Overstrand se onderburgemeester, Lindile Ntsabo, wat ook die burgemeesterskomiteelid vir beskermingsdienste is, het aan die leerders verduidelik presies hoe belangrik dit is om die nodige maatreëls daar te stel sodat situasies soos oorstromings en brande nie rampe word nie. “Om op ’n ramp voorbereid te wees, behels beplanning en opleiding vir situasies wat jy hoop nooit sal gebeur nie,” het hy verduidelik.Ntsabo het daarop gewys dat kinders deur voorbeelde leer en het beklemtoon hoe belangrik dit is dat skole en lede van die gemeenskap hulself moet bemagtig met kennis wat hulle in geval van ’n noodsituasie sal nodig hê.
Zaitoon Rabaney, die uitvoerende direkteur van Childsafe SA, het dit beaam en gesê ongeag of kinders skool toe loop, met ’n bus ry of by die skool afgelaai word, is dit baie belangrik dat hulle die padveiligheidsreëls ken.Leerders het baie goed reageer teenoor Gerrie die kameelperd, die talisman (mascot) vir bewusmaking rakende rampbestuur. Gerrie kan weens sy lang nek ’n ramp van ver af sien.
Alex Rogers en Sharnay Wagner van die Suider-Afrikaanse stigting vir die bewaring van kusvoëls (Sanccob) het die leerders meer vertel oor pogings om na die welsyn van pikkewyne en seevoëls om te sien. Sanccob bied ’n 24/7-reddingsdiens vir siek en beseerde voëls en help om hulle te rehabiliteer voordat die voëls weer in die natuur vrygelaat word.Die kinders is ook bewus gemaak van hoe belangrik dit is om nie rommel te strooi nie en hoe om natuurlike hulpbronne te help beskerm. Die EMS-paramedici Lana Joubert en Richardo Telling het seker gemaak die kinders weet watter nommer om in ’n noodgeval vir ’n ambulans te bel – 10177 van ’n landlyn af en 112 van ’n selfoon af. Hulle het ook verduidelik hoe belangrik dit is om jou naam en van, kontakbesonderhede en adres vir die nooddienspersoneel te gee. Die program het op ’n hoogtepunt geëindig toe brandbestryders van hul toerusting gebruik het om ’n demonstrasie te doen. Gerald Kwela van die PDMC, wat as programdirekteur opgetree het, het die hoop uitgespreek dat die kinders die belangrike boodskappe wat gedeel is, met hul ouers en ook die res van die gemeenskap sal deel.


