Hawston Sekondêr is baie trots op Ciara Scheepers, Griffin Marais en Danielle Kennedy wat vir die o.16-Boland-rugbyspan gekies is.

As rugby in jou are is en jy van jongs af saam met jou ouers jou plaaslike span, Hawston Skrik vir Niks, in wind en weer ondersteun het, kan jy nie anders as om eendag daarvan te droom om vir die Springbokke uit te draf nie.

Dié droom sluip ook al nader vir drie graad 9-leerders van Hawston Sekondêr nadat hulle vir die Boland Dames se o.16-span gekies is.

Griffin Marais vertel trots haar hele familie is rugbymal en haar pa het ook al vir Hawston uitgedraf. “My gunstelingspanne is natuurlik die Springbokke en die plaaslike span, Hawston Skrik vir Niks,” vertel dié veelsydige agterspeler.

Sy sê sy kan enige posisie in die agterlyn speel, maar haar gunsteling is senter. As sy oor rugby praat, kom jy gou agter dat haar tuisdorp en sy spelers vir haar ‘n inspirasie is. Sy het van kleins af die agtsteman van Hawston Skrik vir Niks, Francois Geduld, dopgehou en hy is iemand na wie sy graag opkyk. “Hy is baie professioneel en is ernstig oor rugby. Hy druk homself ook om die beste te wees en is baie gedissiplineerd – gewis ‘n eienskap wat enige sportpersoonlikheid moet hê,” sê sy.

Vra jy haar oor wat sy graag wil word as sy klaar is met skool, sê sy sonder om te skroom sy wil ‘n onderwyser en ‘n professionele rugbyspeler word.

Griffin is nie iemand wat haar maklik laat onderkry nie en sy volg die leuse “Maak nie saak hoe hard jy val nie; dis die manier hoe jy opstaan”. Sy is ook iemand wat nie daaraan glo dat jou omstandighede jou moet onderkry nie en sê haar sukses het baie met haar ouers te doen. “Hulle is daardie soort mense wat die lewe vir ons so maklik as moontlik wil maak en ondersteun ons in alles wat ons aanpak,” sê sy. Dié vasberade meisie droom groot en sy glo sy sal eendag vir die Springbok-vroue uitdraf. “Ek gaan hard oefen om dit reg te kry!”

Ciara Scheepers sê sy het begin rugby speel nie net omdat sy van kleins af liefde vir die sport het nie, maar ook omdat sy van fisieke uitdaging hou. “Rugby leer my dissipline, spanwerk en deursettingsvermoë en dis waarom ek besluit het om rugby te speel.”

Sy kan ook nie wag om Saterdae, as die Springbokke nie speel nie, haar gunsteling-plaaslike rugbyspan, die Blou Bulle, op TV te volg nie en vertel sy is trots op haar span.

“Ek bewonder hul vasberadenheid, taktiese spel en die trots waarmee die Springbokke ons land en die Blou Bulle hul provinsie verteenwoordig.”

Sy sê sy speel agtsteman vir haar skool, waar sy op balhantering, ondersteuning en verdediging fokus, en vir die Boland-span speel sy stut. “Ek is ‘n sterk skrumspeler en as jy voor speel, is krag en tegniek noodskaaklik.”

Danielle Kennedy sê sy het aan baie sportsoorte deelgeneem, maar gevind dat sy die meeste talent in rugby het. “Ek geniet dit baie om rugby te kyk en te speel en sal my span, Hawston Sekondêr, vir niks verruil nie, want as dit nie vir my spanmaats was nie, sou ek nooit in die Boland-span opgeneem geword het nie.” Sy speel gewoonlik slot vir haar skool, maar in die Boland-span speel sy flank. “Ek kyk nogal op na spelers soos Aseza Hele (Blommie) Boland-rugbyspeler, want sy is iemand wat my inspireer en as jy haar storie volg, kom jy agter sy gee nie maklik op nie en sit baie in om suksesvol te wees. My leuses in die lewe is dit wat jy insit, sal jy uitkry.”

Net soos Griffin glo sy daaraan om bo jou omstandighede uit te styg en sy wil ook graag ‘n Springbok-speler word wat aan die Wêreldbeker kan deelneem. “Enigiets in die lewe is moontlik as jy in jouself glo en nie toelaat dat jou omstandighede jou onderkry nie. Afgesien daarvan om eendag professionele rugby te speel, wil ek ook graag ander leer om rugby te speel.” Volgens Danielle sou sy nie kon bereik wat sy bereik het sonder die hulp van juffrou Celeste en haar man, Anton Esau nie.

You need to be Logged In to leave a comment.