Zena Swart van Hawston is die derde Springbok-speler wat deur dié klein vissersdorpie opgelewer is.
Sy sluit aan by die mede-Hawstonners Gio Aplon, wat vir die Bokke uitgedraf het, en Gabby Fisher, wat vir die o.21-Springbok-vrouespan gespeel het.
Dié talentvolle jong voorspeler is tans lid van die o.21-Springbok-vrouespan, wat aan ’n oefenkamp in Johannesburg deelneem ter voorbereiding vir die wedstryd in Potchefstroom teen sy eweknieë van Zimbabwe.
Zena se rugbyloopbaan het in 2019 afgeskop toe sy vir Hawston Sekondêr begin speel het. Sy is ook lid van die Walker Bay-vrouerugbyklub en is vroeg in haar loopbaan in die Boland-o.16-vrouespan opgeneem.
Michelle Bosch, Boland-rugbyvroue se spanbestuurder, vertel Boland-vrouerugby se hoofafrigter, Thomas Chowles, het in 2019 – tydens die Boland-vroue se toer na Mosambiek – van Zena se talent bewus geword.
Chowles sê Zena het ook in skoolwedstryde uitgestaan. “Ek het toe al voorspel sy sal uitblink,” het hy bygevoeg.
Volgens Bosch het Zena oor die jare hard gewerk om haarself te bewys. Sy vertel: “Zena het in 2021 saam met die Boland-vroue begin oefen en is in 2022 in die span opgeneem. Aseza ‘Blommie’ Hele, wat tans as nommer 8 vir die Springbok-vrouespan uitdraf, en Theresa ‘Trixie’ Ruiters het Zena onder hul vlerk geneem.”
Hele woon sedert 2020 in Hermanus. Sy het ’n ernstige beenbesering opgedoen, wat haar vir 13 maande van die veld af gehou het. Sy het in dié tyd intense rehabilitasie ondergaan en vir Zena, wat ook as agsteman uitblink, touwys gemaak.
Hele en Ayanda Malinga, wat ook sedert 2021 in Hermanus woon en vir Boland speel, het in die Springbok-vroue se sege Saterdag oor Spanje uitgeblink. Malinga het twee drieë gedruk en sodoende gehelp om die Bokke se sege van 44-5 te verseker.
Inspirasie
Toe sy op Vrouedag (Dinsdag 9 Augustus) die oproep kry om te sê sy is in die o.21-Springbok-vrouerugbyspan opgeneem, vertel Zena, het trane van blydskap gevloei.
“Ek het dadelik vir die Here dankie gesê, want dis net deur ons God wat ek is waar ek vandag is . . .”
Ondersteuning van haar ma, Esther Swart, haar spanmaats en die rugbygemeenskap, sê Zena, het daartoe bygedra dat sy nie getwyfel het aan haar kanse om die o.21-Springbok-vrouerugbyspan te haal nie.
“Omdat mense soos my ouers, familie en my Boland-familie in my geglo het, het ek die geleentheid met albei hande gegryp. Hoe harder ek gewerk het, hoe meer selfvertroue het ek opgebou,” sê Zena.
Volgens dié belowende speler is Hele haar “ster”. “Omdat ons dieselfde posisie speel, leer ek baie by haar. Sy druk en gee my die selfvertroue om nog harder te werk,” vertel Zena.
“Ek kyk ook op na die manne van Hawston Skrik vir Niks. Hulle motiveer my en help my om te verbeter.”