Emosionele tonele het Saterdag in die Hawston-hawe afgespeel toe familie en vriende van Calebjude “Long” Hunter wat Vrydag 14 November ter see vermis geraak het, by die soektog na die jong man aangesluit het.
Hunter het volgens berigte Vrydag oorboord geduik om van sy besittings wat in die water geval het, terug te kry. Reddingsdienste is omstreeks 12:38 ontbied na verslae van ooggetuies wat aangemeld het dat hulle ‘n boot met twee persone aan boord sien omslaan het.
Craig Lambinon, die NSRI se nasionale woordvoerder, sê bemanning van die NSRI-Kleinmond se reddingsvoertuig sowel as die reddingsvaartuig Spirit of Surfski II is uitgestuur. Die polisie, Overstrand-munisipaliteit se verkeersdienste en die wetstoepassingseenheid en ‘n lid van Wildernis-soek- en reddingsorganisasie sowel as NSRI-Hermanus se twee reddingsbote het ook na die toneel gehaas.
Volgens Lambinon was die Wes-Kaapse gesondheidsdiens se EMS-beheer en die polisie se watervleuel ook in kennis gestel. “Met hul aankoms op die toneel het hulle uitgevind dat die klein vissersboot met twee plaaslike vissermanne aan boord nie omgeslaan het nie, maar dat die 25-jarige skipper volgens berigte in die water gespring het, vermoedelik om persoonlike artikels wat oorboord geval het, terug te kry. Hy het nie weer uit die water opgekom nie,” het Lambinon verduidelik.
Vriende van die jongman het ook by die uitgebreide soektog op land en see aangesluit. Die soektog is Saterdag voortgesit met meer plaaslike inwoners wat owerhede bygestaan het om die see en kuslyn vir enige teken van Hunter te fynkam.
Die jong man se ma, Alicia Hunter, vertel familie en vriende het ook oor die naweek langs die see gaan bid. Haar grootste wens is dat haar seun se liggaam gevind word sodat sy geliefdes “closure” kan kry.
“Ek het altyd vir die Here gevra hoe gaan ek survive sonder Caleb, want hy is ons alles – my eersgeborene, my enigste seun, ‘n pa vir my meisiekinders, die broodwinner en die man in die huis. En nou het my ergste vrees waar geword.”
Volgens Alicia was haar seun verskriklik lief vir die see, ‘n liefde wat hy by sy oorlede pa Jeremiah Hunter geërf het. “Hy het altyd gesê hy voel baie na aan God wanneer hy op die see is. Hy werk al van 16-jarige ouderdom op die see en hy het altyd diep in gegaan. Dat dit nou so vlak moes gebeur… Die see vat altyd ander plekke se mense, nou het dit my seun gevat.”
Die feit dat Caleb die tweede persoon is wat binne een week in dié omgewing verdrink het, is kommerwekkend veral aangesien duisende besoekers oor die warm somermaande na Hawston-strand stroom om ‘n dag by die see te geniet.
Siyanda Plaatjies (14) van Grabouw het Sondag 9 November tydens ‘n uitstappie met vriende in die seestrome verdwyn en ten spyte van ‘n uitgebreide soektog waarby die NSRI-Hermanus en NSRI-Kleinmond sowel as die polisie, Overstrand-wetstoepassingseenheid en die brandweer en reddingspanne van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement betrokke was, is daar steeds geen teken van die jong tiener nie.
Raadslid Rugene Dees sê die tragedie het Hawston se inwoners geskok. “Inwomers voel beter veiligheidsmaatreëls op die strand en in ons hawe is nodig, maar mense moet ook onthou dat veiligheid in die water almal se verantwoordelikheid is en dat daar altyd volwasse toesig moet wees wanneer kinders in die see gaan swem.”
Sy het bygevoeg: “Baie dankie aan al die owerhede en reddingsdienste vir hul hulp. Ons bid vir Caleb se geliefdes, veral sy tweejarrige dogtertjie Novah Julies.”
Overstrand-munisipaliteit het egter aangedui dat lewensredders vanaf 1 Desember by strande ontplooi sal word.
Luitenant-kolonel Nickey Steyn, bevelvoerder van die Hermanus-polisie se speurtak, sê ‘n vermiste persoon-navraagdossier word tans ondersoek, maar dat ‘n geregtelike doodsondersoekdossier geopen sal word indien ‘n liggaam gevind word. Van die tienerseun van Grabouw wat die vorige naweek verdrink het, sê Steyn, is nog geen teken gevind nie.
* Ingeval van nood op die see, skakel die NSRI se noodnommer 087 094 9774.






