Die Heidehof-tehuis vir bejaardes se jaarlikse basaar is hul grootste geldinsamelingsprojek. Alles was goed op dreef vir hierdie jaar se basaar, wat op 30 September gehou sou word, maar dit is weens die erge oorstromings en vloedskade wat die naweek voor dit plaasgevind het, afgelas.
Koppe is bymekaargesit en die tehuis het besluit om twee opwip-markte te hou – een aan die einde van Oktober en een op 25 November. Al twee markte is op die Heidehof-perseel gehou en amper al die gunstelingprodukte van die tradisionele basaar was beskikbaar, waaronder pannekoek, braaivleis, gemmerbier, ’n kindertafel, die witolifanttafel, basaarpoeding, gevriesde maaltye asook ’n tee-“tuin” in die tehuis se eetkamer, waar heerlike verversings aangebied is.
Esther Möller, die uitvoerende hoof van Heidehof, sê: “Ons moes vinnig ’n plan maak, want ons kon nie ons grootse geldinsamelingsprojek net so laat verbygaan nie. Gelukkig kon ons gevriesde maaltye by die onlangse Kersmark verkoop en kon ons hierdie twee opwip-markte hou.”
Möller sê al die skape vir die basaar was reeds geslag, maar die slagpale het dit gelukkig by hulle teruggekoop.
“Ons hoop om by verlede jaar se syfers uit te kom, maar dit gaan dalk bietjie laer wees,” sê Möller.