Heidehof-tehuis vir bejaardes se lentebasaar is Saterdag 28 September in die NG Moederkerk-saal gehou.
Die basaar is een van Heidehof se grootste geldinsamelings en was weer eens ’n groot sukses.
Besoekers het kort ná die opening reeds aan heerlike pannekoek en boepensbroodjies gesmul. Die pragtige gehekelde speelgoed was gou uitverkoop en by die witolifanttafel kon besoekers heerlik rondsnuffel. Vars vleis en groente asook braaivleis was ook te koop.
Vir die jongspan was die gesigverf gewild asook ’n verskeidenheid produkte wat hul kinderharte baie bly gemaak het. In die teetuin was ’n verskeidenheid geregte asook koffie en tee beskikbaar. Hier het besoekers heerlik gekuier en geselsies aangeknoop. Die personeel en vrywilligers het hard gewerk om te verseker dat dié basaar weer eens ’n groot sukses was, maar sonder die skenkings van ondernemings en weldoeners sou dit nie moontlik gewees het nie.