Heinrich reik na die sterre

Hy het in Robertson grootgeword en skoolgegaan, maar hy sien die Overberg as sy huis.


Hy het in Robertson grootgeword en skoolgegaan, maar hy sien die Overberg as sy huis.

“Ek woon nou al vir 10 jaar in die Overberg en sien myself nou as ‘n Overberger.  Al het ek in Langeberg Sekondêr gematrikuleer, is die Overberg nou my huis,” vertel die 36-jarige Heinrich Jansen. 

As jy met Heinrich gesels, lyk en klink hy baie jonger as wat sy identiteitsdokument sê. Dié belowende akteur en model het al in verskeie advertensies verskyn en het ook al ‘n draai in die sepie Binnelanders gemaak. Hy vertel dat hy deur Hannelie Oosthuizen ontdek is. “Hannelie was ‘n voormalige beoordelaar van die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie en sy het my raakgesien en vir my vertel dat ek talent het,” vertel hy.

Daarna het die lewe vir hom oopgegaan en is hy ook internasionaal raakgesien.

“Ek geniet nou my lewe en vir my is elke dag ‘n fees. Ek het by baie modeparades verskyn en daar het Joey Hunter (die voormalige president van Ford Models in New York) en Nate Butler, my genader. Dit was ‘n eer vir my toe hulle met my kom gesels. Nate is ‘n Amerikaanse liedjieskrywer, sanger en onderwyser wat al hoë hoogtes bereik het. Hy het saam met Backstreet Boys, Luther Vandross en Victoria Beckham gewerk. Joey Hunter het modelle soos Naomi Campbell onder sy vlerk geneem.”

Heinrich het voorheen as klerk by Gansbaai-polisie gewerk en het ook sy vlerke gesprei na Dubai waar hy agter die skerms by modeskoue gewerk het. “Ek was een van daardie mense wat gesorg het dat die modelle aangetrek is en het selfs water aangedra. Mode het nog altyd my belangstelling geprikkel en dit is en bly lekker om by modeskoue te werk.”

Ná harde werk en byna twee jaar van modelwerk, is Heinrich uiteindelik op pad na New York waar hy deel van die IMTA Convention (International Modeling and Talent Association) gaan wees. “Dit is een van die grootste samekomste in New York waar modelle en ander kunstenaars deur talentsoekers ontdek word. Daar is meer as 300 handelsname wat aan die konvensie gaan deelneem, soos Gucci, Balmein en Louis Vuitton. Daar gaan agente van die modehuise wees wat modelle gaan nader,” vertel hy.

Heinrich vlieg 7 Julie na Amerika maar volgens hom moet daar nog baie water in die see loop voor sy droom verwesenlik kan word. “Dis nie maklik om met ons wisselkoers na Amerika te reis nie. Dit kos ons baie. Ek is afhanklik van borge om my droom te verwesenlik. Dit gaan nie net oor om in Amerika te kom nie, daar is baie voorbereiding wat vir my wag. Ek moet ook gereeld Johannesburg toe vlieg vir opleiding.

”Volgens hom kan sy drome nie waar word sonder mense soos Wilfred Chivell van Marine Dynamics nie, Michael Lutzeyer van Grootbos en die gemeenskap wat hom so ondersteun. Heinrich vra enigeen om hom te help met skenkings en donasies om New York toe te gaan.

“Ek probeer self ook geld insamel, soos om worsbroodjies te verkoop en vertonings te hou. As mense my wil ondersteun, kan hulle my by 081 531 5390 bel,” sluit hy af. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.