Rasaad Adams
Die Caledon-polisie in die Overberg ondersoek ‘n strafbare-manslag-saak nadat ‘n 45-jarige gevangene by die Helderstroom-gevangenis Sondag (12 Oktober) deur ‘n voertuig van Korrektiewe Dienste doodgery is.
Die voorval het omstreeks 11:20 naby Sunnysideweg plaasgevind, het Wesley Twigg, ‘n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, by navraag gesê.
Die man was deel van ‘n groep gevangenes wat Sondag ten tyde van die voorval landbouwerk gedoen het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Dit is in hierdie stadium nog onduidelik hoe die gevangene getref is en of hy onder die voertuig beland het. Volgens Twigg word die omstandighede rakende die voorval nog ondersoek. Niemand is in hegtenis geneem nie.
Singabakho Nxumalo, ‘n woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het die man se dood as “ontydig” bestempel. “Die polisie, nooddienste en die forensiese eenheid is na die toneel ontbied. Die voorval sal verder ondersoek word.”
Nxumalo het gerugte verwerp dat die Korrektiewe-Dienste-beampte wat die voertuig bestuur het, glo onder die invloed van alkohol was.
“Hierdie gerugte is ongegrond en daarop gemik om sensasie te lok,” het Nxumalo bygevoeg. Die gevangene is vermoedelik van Robertson. Nxumalo het nie sy identiteit bevestig of oor die aard van die man se vonnis uitgebrei nie.


