Heldhaftige Franse matroos hou die Kaap Hollands

Die deurslaggewende rol wat Frankryk, en veral die Franse vloot, in die totstandkoming van die Verenigde State van Amerika gespeel het, is deeglik geboekstaaf. Wat minder bekend is, is dat die Franse vloot, en by uitstek ’n bepaalde Franse seeman, sy


Die deurslaggewende rol wat Frankryk, en veral die Franse vloot, in die totstandkoming van die Verenigde State van Amerika gespeel het, is deeglik geboekstaaf. Wat minder bekend is, is dat die Franse vloot, en by uitstek ’n bepaalde Franse seeman, sy stempel ook hier in Suid-Afrika afgedruk het.

In Engelse bronne is die naam Pierre André de Suffren de Saint Tropez beswaarlik ’n voetnoot, maar die Britte verswyg gewoonlik hul eie neerlae en wandade, soos die konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog. In dié verband het Marthinus van Bart die skokkende Britse vergrype en wreedhede tydens die slawehandel in sy aangrypende Kaap van Slawe meesterlik aan die kaak gestel.

In die tweede helfte van die agtiende eeu was twee van die supermoonthede van daardie tydperk, Frankryk en Engeland, saam met Nederland in ’n magstryd om globale koloniale heerskappy gewikkel. Die Kaap was ’n verafgeleë uithoek van Nederland. Maar as die reuse in Europa begin skouers stamp, sou dit noodwendig weerklank vind in die verre suide van die Afrika-vasteland. Wat Britse bronne weerhou om hulself verleentheid te spaar, is dat ’n handjievol Franse soldate aan die Kaap ’n Britse vloot só die skrik op die lyf gejaag het dat hulle te bang was om voet aan wal te sit, en so het die Kaap Hollands gebly!

Dit was ’n resies na die Kaap, tussen Engeland en Frankryk, maar laat ek die storie voor begin . . .

Op 20 Desember 1780 verklaar Engeland oorlog teen Nederland. Die rede word aangevoer as Hollandse inmenging in die oorlog tussen Amerika en Engeland. Frankryk is reeds ’n Amerikaanse bondgenoot. Die Kaap is in Hollandse hande, en hy is ’n belangrike skakel in die verbindingsroete tussen Europa en die Ooste. Die protagoniste besef die belangrikheid van die Kaap van Goeie Hoop terdeë. In Maart 1781 stuur Frankryk en Engeland vlote na Afrika se suidwestelike hoek om Kaapstad vir hul eie skeepvaart te beveilig. Kaapstad het sedert 1652 gegroei tot veel meer as net ’n buitepos of halfwegstasie. Dit was nou al ’n florerende kolonie in eie reg. Die Engelse vloot onder kaptein George Johnstone spring ’n week vroeër as hul Franse mededingers weg, maar, knap seeman wat hy is, bereik De Suffren se Franse taakmag Tafelbaai eerste. De Suffren laat onmiddellik drie regimente Franse soldate aan wal. Toe Johnstone die Kaap bereik, sien hy nie kans vir die Franse taakmag nie. Wikipedia stel dit sonder om doekies om te draai: “Pierre André de Suffren saved the Cape from capture by Johnstone.”

Johnson sou in sommige kringe so as lafhartig beskou word. Die Britse admiraliteit het immers al vantevore hul seekapteins laat teregstel op aanklagte wat beskryf is as “failing to engage the enemy”. Hierdie lot het admiraal John Byng op 14 Maart 1757 getref nadat hy volgens die owerhede nie teen die Franse magte wou veg wat die Britse basis Fort St. Philip op die eiland Minorca oorrompel en verower het nie. Koning George die Tweede se woorde was: “Hierdie man wil nie veg nie!” Byng is aan boord van die lynskip Monarch tereggestel.

Maar wie was hierdie Franse seeman wat die Britse vloot in ’n wedvaart na die Kaap uitgestof en toegesien het dat die kolonie vir ’n verdere 15 jaar lank Nederlandse besit bly? Behalwe dat selfs sy Engelse vyande erken hy was Frankryk se beste gesagvoerder op see in die agtiende eeu, ken die Orde van Malta aan hom die eretitel Bailli de Suffern toe. Hy word eers ridder en toe kommandeur van die Orde.

Behalwe dat hy Johnston verneder het, het hy op sy vlagskip Cléopâtre die Britse admiraal Edward Hughes in die seeslag van Cuddalore met ’n swakker vloot verjaag en gedwing om na Madras te vlug. En Pierre André was ’n luitenant op die Orphée toe die Franse die Britse vesting op Minorca verower het! Hoe jy ook al daarna kyk, Suffren was in talle opsigte ’n doring in die Engelse vlees.

Maar wat van die Franse teenwoordigheid aan die Kaap? Daar moes sonder twyfel nog Hugenote en self Hollanders, wat Frans magtig was, aan die Kaap gewees het toe De Suffren sy manskappe aan wal gelaat het. Hoe lekker moes die soldate nie met die plaaslikes Frans kon praat nie!

Anna Boëseken skryf in haar gesaghebbende boek Onder Suidersterre dat die (vry-)burgers lekker geleef het terwyl die Franse soldate aan die Kaap was. “Die dames het allerhande mooi klere gekry en die mans het die Kaap spottend ‘Klein Parys’ genoem.”

Sy stel dit dat die burgers in ruil vir hul produkte “mooi meubels en weelde-artikels” kon koop.

Een ding is seker – deur hierdie dapper Fransman se toedoen, het die Kaap vir 15 jaar lank nog Hollands gebly. Ek sou my verstout om te sê as daar ’n Franse taakmag teenwoordig was toe Engeland die Kaap in 1795 aangeval het, hulle die aftog sou moes blaas…

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.