Sy het 18 jaar lank gewonder waar haar dogter kan wees, gebid dat sy veilig is en nooit ophou soek na haar tweede oudste kind nie.
Die wonderwerk waarvoor sy al jare lank bid, het Maandag (3 Februarie) waar geword toe sy danksy die wonder van tegnologie weer haar dogter se gesig op ’n video-oproep kon sien.
Die tonele wat afgespeel het toe ma en dogter mekaar die eerste keer in 18 jaar weer sien, vertel Lana O’Neill van Heavenly Promise Huis van Veiligheid in Bredasdorp, was hartroerend.
“Hulle was so emosioneel dat hulle nie kon praat nie. Die tannie het net gesê: ‘Mamma is so lief vir jou en Mamma soek al so lank na jou’,” het Lana vertel. “Toe haar ma vra of sy wil huis toe gaan, kon sy net haar kop instemmend knik.”
Die 45-jarige Janine (*skuilnaam) het oor die naweek by die plek van veiligheid vir mishandelde vroue en kinders beland nadat sy in Arniston saam met ’n man gewoon het wat haar na bewering mishandel het.
Janine, vertel Lana, was erg deurmekaar en kon nie maklike vrae beantwoord of sê wat die datum is nie.
“Sy kon darem haar ma se adres onthou. Ons het na kontakte in die Noord-Kaap uitgereik wat gehelp het om haar familie op te spoor. Aangesien haar ma nie ’n selfoon het nie, het ons gereël dat ons die buurvrou kon kontak om die video call te doen,” vertel Lana.
Om haar dogter te sien, vertel die 71-jarige vrou, het haar bly, maar tog ook hartseer, gemaak.
Sy vertel: “My hart se begeerte om tog net weer my kind te sien, is my uiteindelik gegun. Ek het geskrik toe ek haar sien, want toe ek haar laas gesien het, was haar gesig vol.”
Sy het Janine in 2006 laas gesien toe sy ná haar pa se begrafnis na Kraaifontein teruggekeer het, waar sy destyds gewoon het.
Hoewel sy jare laas van haar dogter gehoor het, het sy haar egter nooit as vermis aangemeld nie.
Die buurvrou vertel dat die ma nooit ophou soek het na haar dogter nie. Sy het in Desember nuwe hoop gekry toe sy, terwyl sy by haar dogter se kinders in Saldanha gekuier het, gehoor het dat haar kind in die Kaap in die hospitaal is.
“Maar toe die kinders bel, kon hulle haar nie in die hande kry nie,” vertel die bejaarde vrou. Dat hul ma opgespoor is, het sy nog nie vir haar kleinkinders vertel nie.
Nou bid die bejaarde ma van Steinkopf, naby Springbok in die Noord-Kaap, dat sy genoeg geld bymekaar kan maak om meer as 750 km na Bredasdorp te reis om uiteindelik weer haar geliefde kind in haar arms te kan vashou en terug huis toe te neem.. Enigeen wat in dié verband kan help, kan Lana O’Neill by 084 846 4233 bel.