Solidariteit Helpende Hand het onlangs sy Hangklip-tak gestig, wat hande gaan neem met verskeie organisasies en rolspelers om die gemeenskappe van Kleinmond, Bettysbaai, Rooiels en Pringlebaai te bevorder.
“Die tak het besluit om by verskeie organisasies in die dorp te gaan hoor wat hul spesifieke behoeftes is. By een van die ouetehuise het dit aan die lig gekom dat hulle ’n behoefte het vir inligtingsessies en aktiwiteite vir mense met demensie,” sê Alisha de Lange, Helpende Hand se streeksorganiseerder van die Wes-Kaap.
“Die tehuis het ook ’n behoefte vir saamsing-geleenthede met musiek en die voordrag van gedigte.”
Volgens De Lange kom gevalle van vereensaming voor waar bejaarde paartjies hul lewensmaat verloor het en hulle dit moeilik vind om alleen voort te gaan.
Sy sê die tak benodig mense wat bereid sal wees om vir bejaardes te gaan voorlees, hulle te help om inkopies te gaan doen, om die verpleegpersoneel te ondersteun en kundigheid te deel oor finansiële beplanning en inligting oor testamente en beleggings.
De Lange is van mening dat verskeie mense wat in die Hangklip-omgewing woon moontlik hier kom aftree het en steeds hul kennis en ervaring met ander kan deel.
“Indien jy dus ’n vaardigheid of kennis het wat jy met bejaardes kan deel, maak gerus met ons kontak. Dis belangrik dat wat ons ook al plaaslik wil doen, volhoubaar is. Daarom wil ons graag een keer ’n maand ’n aktiwiteit reël wat die bejaardes en inwoners van die omgewing kan bywoon. Dit is uit die gemeenskap vir die gemeenskap,” sê sy.
Vir meer inligting, bel De Lange by 082 923 1438 of Gean Jooste, die takvoorsitter, by 082 923 8269.