n Lid van die polisie se polisiëringeenheid vir openbare orde (Pops) is in ‘n kritieke toestand nadat hy met ‘n byl in die gesig geslaan is. Hy is glo deur ‘n groep aangeval wat sy vuurwapens gesteel het tydens onluste in Zwelihle gisteraand (Donderdag 19 Julie).
Die polisieman word vandag oorgeplaas na ‘n hospitaal in Kaapstad. Talle mense is gisteraand in hegtenis geneem en die gesteelde wapens gekonfiskeer en terug in die polisie se besit.
Betogers en polisie het gisteraand weer slaags geraak, na ‘n stil dag in Zwelihle. Joernaliste is gister in Zwelihle toegelaat om ‘n gemeenskapsvergadering by te woon.
Komiteelede van Zwelihle Renewal sê hulle beoog dat mense Maandag na hul werke sal kan terugkeer.
Maar dít hang af van die uitkoms van Bheki Cele se besoek Vrydag aan die gemeenskap van Zwelihle in Hermanus asook die uitslag van hul leier Gcobani Ndzongana se hofverskyning.
Ndzongana, wie verlede Woensdag op aanklagte van aanhitsing tot geweld en saakbeskadiging gearresteer was, het Donderdag in die Hermanus-landdroshof verskyn. Die klagte hou verband met ’n voorval twee weke gelede toe die gemeenskap van Zwelihle ’n heining in Schulphoekweg afgebreek het aangesien hulle dit beskou as ’n voorwerp van rasse-skeiding (racial segregation).
Ndzongana se saak is uitgestel tot Vrydag 20 Julie en is na die streekhof in die Strand oorgeplaas.
Volgens Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, is dit weens veiligheidsredes gedoen.
“Nog ’n rede is om te verseker dat die hof glad verloop. Hofpersoneel wat in Zwelihle woon word tans verhoed om te kom werk en dit het ’n personeeltekort tot gevolg,” het Ntabazalila verduidelik.
Sicelo Gxamesi, een van die leiers van Zwelihle Renewal, sê die gemeenskap is teleurgesteld en kwaad omdat hulle verhoed is om Ndzongana se hofsaak by te woon.
“Nie eens sy vrou is in die hof toegelaat nie. Wat môre in die hof en tydens Bheki Cele se besoek gebeur, sal die pad vorentoe bepaal,” aldus Gxamesi.
Die komitee beskou Ndzongana se arrestasie as ’n politieke skuif om onderhandelings vir grond vir behuising, te ontspoor en is van mening dat klagtes teen hom teruggetrek moet word aangesien hy nie by die afbreek van die heining betrokke was nie.
Lede van die gemeenskap beweer dat die polisie hulle verhoed het om die area te verlaat en dat slegs vroue toegelaat is om in en uit Zwelihle te beweeg.
Brigadier Donovan Heilbron, Overberg Distrik polisiebevelvoerder, het hierdie bewering ontken.
“Niemand is verhoed om die area te verlaat nie want dit is teen die wet op Vryheid van beweging. Beweging is egter streng gemonitor as voorsorgmaatreël vir Minister Bheki Cele se besoek,” het Heilbron verduidelik.
Overstrand Munisipaliteit het Donderdag in ’n verklaring gesê dienste in Zwelihle sal voortgesit word sodra die situasie stabiliseer het.
“Ons is bewus van die gesondheidsrisiko in Zwelihle weens die feit dat geen openbare toilette in die informele areas skoongemaak is of vullis vir meer as ’n week verwyder is nie. Indien die area gestabiliseer word en die Suid-Afrikaanse Polisiediens dit veilig verklaar, is ons gereed om dienste aan die area te lewer,” het Coenie Groenewald, Overstrand Munisipale Bestuurder, gesê.
Hy het bygevoeg dat, indien daar ’n behoefte is, die munisipaliteit se Rampbestuur eenheid ’n plek van veiligheid sal open soos in Maart gedoen is.
Die minister van polisie, Bheki Cele sal vandag om 14:00 by ‘n gemeenskapsvergadering by die Zwelihle sportsgronde wees en lede van alle gemeenskappe in Hermanus word aangemoedig om die vergadering by te woon.