Rehanna Rabie sê sy was erg senuweeagtig toe Overstrand-brandbestryders Bevan Hess (links), Tyrol MacKenzie en Shane Booysen (voor) haar teen die steil trappe op moes dra.


Brandbestryders bring nie net vure in bedwang nie, soms help hulle ook mense wat in ander soorte nood verkeer. Dit was verlede week die geval toe hulle ’n vrou wat ná ’n operasie rolstoelgebonde is, teen steil trappe op tot in haar huis moes dra.

Tyrol MacKenzie, Shane Booysen en Bevan Hess van die Overstrand-brand-en-reddingsdienste het hul spiere gebult en die taak om Rehanna Rabie met rolstoel en al teen die trappe op te dra, met groot geduld en deernis aangepak.

Rehanna vertel sy is rolstoelgebonde sedert sy onlangs ’n operasie aan haar linkervoet, wat 35 jaar gelede in ’n ongeluk vergruis is, moes ondergaan.

“Ek het geweet die trappe gaan ’n uitdaging wees, maar ek het nie besef dit sal só moeilik wees nie. My seun Ferdinand het toe besluit om die brandweer te skakel.”

In ’n video wat op sosiale media gedeel is, kan gehoor word hoe haar seun spot dat sy hande sag is en hy nie die brandweermanne kan help nie. Dit wys hoe Tyrol en Bevan die agterkant van die rolstoel gryp, terwyl Shane die voorkant stewig vasvat. Sodoende dra hulle haar dan behendig trappie vir trappie, twee verdiepings op tot in haar kombuis.

“Een het voorgestel dat hulle my dra, maar ek was baie bang, daarom het ek so verbete aan die pyp vasgeklou. Dit was senutergend, maar hulle was fantasties. Die trappe is baie nou en steil, maar hulle het dit ongelooflik goed hanteer,” het Rehanna vertel.

“Ek is hulle verskriklik baie dank verskuldig. Ek kan nie genoeg dankie sê nie.”

Tyrol, ’n senior brandbestryder, het die sukses van die operasie aan goeie spanwerk toegeskryf.

“Dis ons werk om mense in nood te help. Dit was ’n spanpoging en ons is bly dat ons van hulp kon wees.”

Overstrand se munisipale bestuurder, Dean O’Neill, het bygevoeg: “Dit was fantasties om te sien. Dit is iets wat nie in opleiding geleer kan word nie, dit word gebore uit empatie en bedagsaamheid.”

You need to be Logged In to leave a comment.