Hermanus deel van polisieraad

’n Besonder groot eer het Trevor Hermanus, voorsitter van die Overberg-polisiekluster se GPF, te beurt geval toe hy onlangs as projekkoördineerder van die uitvoerende raad van die Wes-Kaap-polisieraad verkies is. Dit is die eerste keer in 25 jaar dat


’n Besonder groot eer het Trevor Hermanus, voorsitter van die Overberg-polisiekluster se GPF, te beurt geval toe hy onlangs as projekkoördineerder van die uitvoerende raad van die Wes-Kaap-polisieraad verkies is. Dit is die eerste keer in 25 jaar dat iemand van die Overberg-streek dié posisie beklee.

Hermanus Times het met Hermanus gesels om uit te vind wat dit behels.

“ ’n Gemeenskapspolisiëringsforum is ’n wetlike gemeenskapstruktuur wat as spreekbuis vir die gemeenskap met die polisie dien, en omgekeerd. Die Overberg-polisiekluster verteenwoordig al 12 polisiekantore in die Overberg en die Wes-Kaap-polisieraad verteenwoordig 150 polisiekantore.

“Dit is ’n groot voorreg om die Overberg te verteenwoordig. Ons voer verskeie projekte aan en dit is belangrik om in ’n oorsigsrol toe te sien dat elke polisieforum in die Wes-Kaap ’n vennootskap tussen die polisie en die gemeenskap bou.

“Ons werk baie met die jeug in die gemeenskappe, veral met kinders wat al teen die gereg gebots het. Ons bied vakansieprogramme aan om die kinders weg te hou van misdaad en dwelms. Een van ons prioriteite is om geslagsgeweld die hoof te bied – om kinders te laat verstaan hoe belangrik dit is om vroue te beskerm en te respekteer. Ons het ’n ooreenkoms met skole oor bewusmakingsveldtogte – veral met betrekking tot dwelmmisbruik. Ons werk nou saam met die TWK en die onderwysdepartement aan ’n projek waar ons Safe School Marshalls by verskeie skole in die munisipale gebied plaas. Hulle bied projekte by skole aan om kinders, sowel as onderwysers, te beveilig en te voorkom dat dwelms by skole versprei word. Ons wil graag die kinders se ingesteldheid verander om hulle ’n meer verantwoordelike rol teenoor die gemeenskap en hulself te gee.”

Op ’n vraag oor waar kinders se gedragsprobleme ontstaan, antwoord Hermanus: “In die meeste gevalle is dit in die huis. Dit hang af hoe ouers hul kinders grootmaak. Dit is nie ’n skool se werk om kinders maniere te leer nie; dit is die ouers se taak. ’n Kind moet weet om asseblief en dankie te sê en om gesag te gehoorsaam. ’n Kind moet leer wat reg en verkeerd is. As jy dit kan doen, het jy ’n rolmodel van ’n kind.

“Wat vir my as lid van die polisieraad baie belangrik is, is dat mense moet praat oor misdaad in hul gemeenskap. Dit moet aangemeld word. So ook die misbruik van byvoorbeeld polisievoertuie, korrupsie en die misbruik van magte. Dit moet vasgevat word. Ons het goeie polisielede, maar dan het ons ook sommiges wat nie kan worry om hul werk behoorlik te doen nie. Die gemeenskap moet opstaan en daaroor praat, dit aanmeld en nie net aanvaar nie.”. Kontak Hermanus by 076 109 5366 of trevorhermanus@live.com

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.