HERMANUS – Plaaslike sakeondernemings sal binnekort ’n aansienlike finansiële hupstoot kry wanneer die eerste passasierskip nog in Walkerbaai anker gaan gooi.
Die Overstrand-munisipaliteit het verlede week die nuus gebreek dat die eerste skip, die Hanseatic Spirit, wat tussen Kaapstad en Mauritius vaar, in Desember hier sal vasmeer.
Overstrand se munisipale bestuurder, Dean O’Neill, sê die verwagting is dat meer plesierbote in die toekoms in Walkerbaai sal vasanker sodat passasiers die omliggende omgewing kan verken.
“Die vooruitskatting is dat die gewildheid van plesierbote gaan toeneem. Die roetebeplanners vir passasierskepe het van dag een die potensiaal van die omgewing gesien en Hermanus is ’n beplande halte vir nog ’n passasierskip (Silversea) in April 2024,” het O’Neill bygevoeg.
Die voordele wat dit nie net vir Hermanus nie, maar ook omliggende dorpe inhou, is onbeperk – meer besoekers wat geld in die gebied uitgee, beteken ’n ekonomiese inspuiting vir die omgewing, wat tot werkskepping kan lei.
“Ons glo dit sal ’n positiewe uitwerking op ekonomiese groei en werkskepping hê. Hermanus en al die omliggende dorpe bied uitstekende waarde vir geld en pronk met hope besienswaardighede vir reisigers op die passasierskip,” aldus O’Neill.
Onderhandelinge met rolspelers in die passasierskip-bedryf, sê hy, het gevolg na aanleiding van die aanvraag van reisigers wat altyd nuwe plekke wil verken.
Plesierbote bied verskeie pakkette aan en dit word wêreldwyd bemark. Die plesierboot-maatskappye stel programme op met verskillende aktiwiteite en besienswaardighede vir passasiers.
Die seisoen vir passasierskepe strek van November tot Mei. Passasierskepe sal in Walkerbaai anker gooi en passasiers sal met rubberbote, wat deel van die skip se toerusting is, na die Nuwe Hawe vervoer word. Owerhede skat tussen 300 en 1 500 reisigers sal aan land wil kom.
Volgens O’Neill is parkering in die hawe opgegradeer met die visie dat dit die beweging van toeristebusse sal vergemaklik.
Plaaslike gidse, wat deur die passasiersbote aangestel word, sal passasiers op uitstappies neem om walvisse te besigtig, haaiduik te doen of wyn te proe. Passasiersbote sal ’n Plan B daarstel vir gure weersomstandighede.
Die Overstrand se uitvoerende burgemeester, dr. Annelie Rabie, het aangedui sy sal binnekort met sakekamers vergader om te verseker die relevante ondernemings sal gereed wees om die toeriste te verwelkom.
“Ons moet elke geleentheid aangryp om die hoeveelheid besoekers aan ons dorpe te laat toeneem, aangesien dit die plaaslike ekonomie kan help uitbrei en broodnodige werksgeleenthede kan skep.
“Laat ons wys ons is reg vir besigheid en die besoekers met entoesiasme verwelkom,” het Rabie gesê.