Menige mens spaar jare om die bekende Passiespel in Oberammergau te sien, min wetend dat Hermanus ook ’n baie suksesvolle Passiespel teen die agtergrond van die Ou Hawe aanbied.
Vanjaar se Passiespel, wat by die Ou Hawe in Hermanus aangebied is, was weer eens ’n reusesukses, maar dit is ook ’n hartseer tyd vir die deelnemers en organiseerders nadat hul regisseur van 17 jaar, Fanus le Roux, op 2 April in sy huis in Villiersdorp oorlede is.
“Fanus was ’n unieke mens en ’n legendariese karakter van die Hermanus-Passiespel en ons gaan hom geweldig mis,” het Anschen du Plessis, mederegisseur van die Passiespel, gesê.
“Vir Fanus was die Passiespel deel van sy roeping op aarde wat God self op hom geplaas het. Sy bydraes met die finansies en veral sy bydrae met sy menswees, sal nooit vergeet word nie. Hy sal altyd onthou word as ons saggeaarde reus wat met ’n passie sy roeping hier in die Ou Hawe van Hermanus kom uitleef het.”
Vanjaar was ook spesiaal aangesien Fanus sy laaste Passiespel uit die gehoor kon beleef. “Dit was vir hom ’n sielsverrykende ervaring en hy het ná die tyd gesê ‘dit was my laaste Passiespel’ . . . asof hy geweet het hy het sy lewenstaak en roeping op aarde voltooi – dit was volbring,” sê Anschen.
Fanus se gedenkdiens is gister (16 April) by die NG kerk Villiersdorp gehou. Hy laat ’n seun, ’n dogter, skoonseun, skoondogter en twee kleinkinders agter.
Al was almal geraak deur die dood van Fanus, het die Passiespel steeds ’n blywende indruk op mense gelaat.
“Soveel goeie terugvoer het ons lanklaas gehad. Toeskouers was in vervoering oor die akteurs, die kostuums, die sanger, die stel, die beligting en die klankspan. Nie net het die weer goed saamgespeel nie, maar die groot hoeveelheid mense wat opgedaag het, het alle verwagtinge oortref,” het Anschen gesê.
Volgens Anschen was besoekers van Nederland en Duitsland uit die veld geslaan en het getuig hoe die ervaring selfs beter was as dié in Oberammergau.
“Ons sanger, Fanie de Jager, het ’n pragtige brief van ’n Engelse dame ontvang waarin sy hom bedank dat die liedere wat hy gesing het, haar mening verander het oor geestelike dinge waarmee sy geweldig geworstel het. Sy het met haar foon vertaal aangesien sy die woorde nie kon verstaan nie,” sluit Anschen af.