Twee minderjarige seuns is volgens berigte op heterdaad betrap waar hulle met gesteelde fietse deur die Hermanus-nywerheidsgebied gery het.
Rickus Muller, ondervoorsitter van die Overberg-BMX-klub, sê hy het Maandag omstreeks 11:00 in die dorp gery toe hy twee seuns op die fietse gewaar het.
“Ek het onmiddellik geweet dis die klub se fietse, want dit is nie fietse wat algemeen is nie,” het Muller verduidelik.
Hy het hulle agternagesit, maar die fietsryers het in verskillende rigtings gespat. Een het die fiets naby Culive-sekerheidsmaatskappy se perseel neergegooi en te voet laat spaander. “Ek het die fiets opgetel en in die bakkie gelaai terwyl Culive se mense agter hom aangejaag het,” vertel Muller.
Lede van die polisie-eenheid van openbare orde (POP) het op die toneel opgedaag en dadelik tot aksie oorgegaan om verder ondersoek in te stel, die ander verdagte aan te keer en die gesteelde goedere op te spoor.
Muller wat intussen na die klubhuis teruggekeer het, het tot sy skok ontdek dat altesaam 12 fietse sowel as splinternuwe hempies met die klub se embleem daarop gedruk, broeke en valhelms gesteel is.
“Die fietse is elk ongeveer R3 500 werd en die 10 hempies, wat nog in die plastiekverpakking was, elk ongeveer R300 werd. Die broeke en ander toerusting was aan die klub geskenk so ons weet nie die waarde daarvan nie,” sê Muller.
Tot sy groot verligting het die polisie daarin geslaag om die ander verdagte aan te keer en van die gesteelde fietse in Marikana-informele nedersetting op te spoor.
“Ons het altesaam nege van die fietse, twee hempies en ’n broek teruggekry. Drie van die fietse en die hempies is nog weg, dis ’n verlies van meer as R12 000,” het hy mismoedig vertel.
Kaptein Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê dat lede van die Overberg se eenheid van openbare orde besig was met patrollies toe hulle omstreeks 11:00 op die toneel naby Culive se perseel opgedaag het.
“Nadat hulle meer inligting ingewin het, het hulle vir mnr Rickus Muller van die Overberg-BMX-klub ontmoet. Hy het toe aan hulle verduidelik dat die fietse uit die vraghouer by die klub se perseel gesteel is,” het September verduidelik.
“Een van die gesteelde fietse is glo in ’n minderjarige se besit gevind. Die beamptes het inligting opgevolg en daarin geslaag om van die gesteelde fietse in Marikana terug te vind.
“Valhelms en truie is ook teruggevind. Die twee minderjariges is in hul ouers se sorg vrygelaat. ’n Saak van die besit van gesteelde goedere word ondersoek.”
Volgens Muller het die inbraak en diefstal van die fietse ’n slegte smaak in sy mond gelaat.
“Een van ons lede het gesê hy het die seuns al voorheen by die baan gesien. Dit maak ’n mens mismoedig dat mense wat ons probeer help so iets kan doen. Ons is net dankbaar dat ons die meerderheid van die gesteelde artikels teruggekry het,” het Muller gesê.
Lourens Theron van AfriForum Alfa-buurtwag, wat ook bystand gelewer het, sê die sukses is weer eens, soos met die inhegtenisneming van twee gewapende rowers wat twee weke gelede by ’n onderneming in die nywerheidsgebied toegeslaan het, ’n bewys van die goeie samewerking tussen die publiek, polisie, sekerheidsfirmas en buurtwagte.
“Die vinnige optrede van Culive, Lourens Theron van AfriForum Alfa-buurtwag en Henri Papenfus het gehelp om die een verdagte aan te keer. Daarna het die Pop-eenheid opgevolg en nege van die gesteelde fietse en van die gesteelde klere teruggevind. Ons is baie dank verskuldig aan almal wat so vinnig gereageer en opgetree het,” het Muller gesê.
Hy het bygevoeg dat veiligheid by die klub intussen opgeskerp is.