HERMANUS – Die Hermanus-Kalfiefees vier die jaar sy 25 ste bestaansjaar en dis iets waarna uitgesien kan word.
“Hierdie is ’n fees vir oud en jonk. Drama, komedie, musiek, dans, kinderteater, boekbesprekings, kuns en leefstyl; iets vir elke feesganger se smaak. Die Kalfiefees gee die geleentheid aan kunstenaars oor die hele land heen om byeen te kom en gehore uit alle windrigtings te vermaak,” vertel die feesdirekteur Hester Finberg. “Dit is vanjaar ’n mylpaaljaar, want van 1 tot 10 Augustus vier ons die fees se 25ste bestaansjaar. Oudergewoonte is die program weer propvol opwindende, uiteenlopende produksies en optredes. Feesgangers kan uitsien na eersteklas-produksies wat komedie, musiek en dans insluit, en daar is ook boekbekendstellings, kuns- en leefstylgeleenthede en kinderprogramme – dus iets vir elke ouderdom en smaak.”
Benewens gevestigde kunstenaars – wat vanjaar bekendes soos Pieter-Dirk Uys, Sandra Prinsloo, Marion Holm, Nataniël, Amanda Strydom, Antoinette Kellermann en Frank Opperman insluit – werk die feeskomitee ook hard aan die ontwikkeling en ondersteuning van plaaslike talent waar hulle ruimte skep vir jong kunstenaars en akteurs om hul vaardighede te ontwikkel.
Met die 25ste bestaansjaar vier die Kalfiefees ook 25 ikone in die Afrikaanse kunste wat elk ’n verbintenis met die streek het. Die gewilde ikone is onder andere Breyten Breytenbach, Katinka Heyns, Chris Barnard, Marius en Evette Beyers, Jan Rabie, Marjory Wallace, Uys Krige, Gregoire Boonzaier, Ingrid Jonker, Ettienne Leroux, Pieter Cilliers, Philip de Vos, Kerneels Breytenbach, Pierre van Pletzen, Anton Goosen, Petrovna Metelerkamp, Trix Pienaar, Hennie Niemann, Carel Trichardt, Petru Wessels, Wilna Snyman, Cobus Rossouw, Sandra Kotzé en Marco van der Colf.
Van die topproduksies wat nie misgeloop kan word nie is Nataniël met Nataniël in Concert. In hierdie produksie bring hy sy nuutste stories, musiek en kostuums na Hermanus! Hy sing nuwe weergawes van immergroen treffers, ook ongewone ontdekkings en, die heel belangrikste, oorspronklike melodieë uit sy eie pen. Vrae, antwoorde, humor, herinneringe, skok, hartseer, twyfel en wyshede vorm alles deel van sy unieke kyk na die wêreld en sy inwoners. Hy deel die verhoog met pianis Marcel Dednam.
88 met Rocco de Villiers en Coenie de Villiers is ook een van die hoogtepunte. ’n Klavier het 88 note, maar selfs twéé klaviere op een verhoog is nie genoeg vir die vinnige vingers van hierdie twee legendariese pianiste nie. Gehore het gevra, en Rocco en Coenie het geluister.
Dié twee Viljees span hul formidable kragte vir die heel eerste keer in hierdie debuut saam. Hulle word op die verhoog deur Suid-Afrika se kitaar-maestro, Mauritz Lotz, bygestaan.
Die repertoire strek vanaf boeremusiek tot by Bach, vanaf die blues tot by ballades. Daar is ou treffers wat spog met vars vertolkings, nuwe komposisies wat spesifiek vir hierdie produksie geskryf is, en – wag daarvoor! – splinternuwe woordkuns uit die penne van albei kunstenaars.
Hulle style is uiteenlopend, maar hulle deel een groot liefde: die klavier. In die proses skep hierdie musikante ’n sonderlinge, nuwe klank. “En nee,” lag Coenie. “Ontspan, ek dra nie kortbroek op die verhoog nie!”
Vir die volledige feesgids besoek www.kalfiefees-hermanus.co.za of koop jou kaartjies deur Tixsa.


