Hermanus en die Overstrand-munisipaliteit is besig om hul vere reg te skud vir die feestyd wat op hande is.
“Ons is hard besig om voor te berei vir die vakansie. As jy jou oë uitvee kom ons eerste vakansiegangers die dorp binne, dus moet ons regstaan. Ons is die jaar vry van enige Covid-19-maatreëls en sien daarna uit om die vakansiegangers in ons mooi streek te verwelkom,” het ’n restauranteienaar aan Hermanus Times gesê.
Dit is ook een van die redes waarom die Overstrand-munisipaliteit dit graag onder die inwoners se aandag wil bring dat daar slegs een week oor is om as ’n “strand-smous” aansoek te doen. “Ons nooi graag mense om aansoek te doen om die volgende produkte of items op die strande te verkoop: verversings, roomys en die verhuring van strandsambrele en -stoele. Die tydperk wat sake gedoen kan word, is van 1 Desember 2022 tot 30 Junie 2024. Die sluitdatum vir aansoeke is 7 November om 12:00,” het die munisipale bestuurder, Dean O’Neill gesê.
Volgens hom is die sake-ure van 07:00 tot 20:00 en die gebiede waarvoor jy aansoek kan doen, is Grotto-strand, Voëlklip; Kammabaai; Sandbaai; Onrus en Hawston.
Die aansoekdokumentasie is op die munisipale webwerf beskikbaar. Besoek www.overstrand.gov.za; klik op dokumente, dan op supply chain management and proposal for hawker stands. Vir nog inligting kontak Heidi Dignas by 028 313 8135 of stuur ’n e-pos na hdignas@overstrand.gov.za.