Die Hermanus Times-personeel en ander vrywilligers is onlangs met lofprysingsliedere by die Mispah-skool vir leerders met spesiale opvoedkundige behoeftes (LSEN) verwelkom.
Die bewolkte, reënerige dag het vinnig kleur gekry toe bederfpakkies en ander skenkings aan die skool uitgedeel is en die dag is met hul breë glimlagte opgehelder.
Die meer as 100 leerders kon nie hul opgewondenheid keer toe die skoolhoof, Abie Adams, hulle vertel dat ’n verrassing op hulle wag nie.
Danksy die ruim skenkings van die gemeenskap kon nie net ’n bederfpakkie aan die kinders oorhandig word nie, maar ook komberse, serpe, handdoeke, mussies en niebederfbare kos.
“Wat die dag so spesiaal gemaak het, is die feit dat ons danksy die skenkings ook vir die leerders en personeel boereworsrolle maak,” het die redakteur van Hermanus Times, Mariëtte Strydom, gesê.
Afgesien van die boereworsrolle en bederfpakkies vir die leerders, het die gemeenskap ook die hand diep in eie sak gesteek en handdoeke, komberse, mussies en serpe geskenk.
Geliefdes van Charlene October, KJK Konstruksie en ’n anonieme skenker het ook finansiële bydraes gemaak.
Bredasdorp Toyota het spesiaal vir Madibadag na die skool uitgereik om die koshuis te verf.
Verder het ’n afgetrede kaptein van die Hermanus-polisie, Fadila September, ’n praatjie oor veiligheid gelewer.
Die Mispah-skool, wat in die sendingdorpie Elim geleë is, huisves ongeveer 100 leerders en het ook ’n koshuis waar die meeste van die kinders gedurende die skoolkwartaal bly.
“Ons huur die perseel by die Morawiese kerk en is die enigste skool in die Overberg wat ook ’n koshuis vir leerders met spesiale opvoedkundige behoeftes het. Leerders van so ver as Robertson en Paarl is ook by ons in die skool,” vertel Adams.
“Dit was vir ons ’n eer om die skool as ons Madibadag-projek te identifiseer,” het Strydom gesê. Wat ons verder opgeval het, is die feit dat die skool nog baie ander behoeftes het, en daarom wil ons graag die Mispah-skool help waar ons kan.
“Van die behoeftes wat ons geïdentifiseer het, is stortgordyne, los matte, komberse of duvets, bordspeletjies vir die kinders, legkaarte, kinderboeke, inkleurboeke, skryfbehoeftes, televisieskerms en verf.”
Verder is reukweerder vir seuns en meisies, waslappe, knippies, lyfroom, tandepasta en tandeborsels ook baie welkom.
Enigiemand wat graag ’n skenking wil gee, kan dit by Hermanus Times se kantoor in die Birkenhead-gebou in Hoofstraat (oorkant Absa) aflaai of kontak die kantoor by 028 312 3717.. Die Hermanus Times bedank ook die volgende mense vir hul bydraes: Food Lover’s Market vir die broodrolletjies en boerewors, Yorke Cash & Carry vir die bederfpakkies, die geldskenkings van goedhartige ondersteuners, Chantelle Momberg vir haar ondersteuning en Fadila September vir haar praatjie.