Sy het al van jongs af geweet sy wil vir die Here werk, Sy roeping uitleef en mense na Hom lei. En dit is presies wat die 22-jarige Tesné Coetzee doen.
Dié inwoner van Hawston en dogter van Valda en Keith Coetzee vertel sy het haar roeping tot bediening oor ‘n tyd ervaar – grootliks deur geestelike ervarings en bevestigings. “Ek het van my tienerjare af ‘n diepe bewustheid van God se teenwoordigheid gehad – en ‘n begeerte om God te dien. Met verloop van tyd het ek deur gebed, mentorskap en my betrokkenheid in die kerk al hoe meer die stem van die Here ervaar wat my roep om Sy Woord te verkondig en Sy liefde prakties uit te leef.”
Tesné is ‘n duidelike voorbeeld van “waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor” – sy kan nie uitgepraat raak oor haar verhouding met die Here nie. “My verhouding met die Here is die fondasie van my lewe – dit gee my rigting, doel en hoop … selfs in moeilike tye. Dit is in Sy teenwoordigheid waar ek ware vrede en identiteit vind en waaruit ek alles wat ek doen, probeer leef.”
Tesné se liefde vir haar grootworddorp, Hawston, het ook ‘n groot rol gespeel in haar besluit om teologie aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer. “Ek en my twee ouer susters, Robyn en Kelly, het in Hawston grootgeword, waar ons ook ons skoolloopbaan voltooi het. Ek was in Hawston Primêr en daarna op Hawston Sekondêr en is tans besig met my meestergraad aan die Universiteit Stellenbosch. Die ondersteuning wat ek van die gemeenskap gekry het, is merkwaardig en Hawston is my tuiste.”
Dat Tesné ‘n spesiale plek in die harte van die inwoners van Hawston het, is duidelik uit ds. Steven Enslin Davids se skrywe oor haar: “Hawston het op Sondag 1 Junie weer eens geskiedenis gemaak toe ‘n meisie van ons dorp, Tesné Coetzee, haar proefpreek gelewer het op haar lewenspad om haar as predikant te bekwaam. Dié voormalige leerder van Hawston Sekondêr het ná haar skoolloopbaan besluit om haar as ‘n predikant te bekwaam. Ná vyf jaar van intense studies het hierdie uitblinkerstudent in teologie haar basiese studies voltooi en toe haar proefpreek in haar tuisgemeente en dorp kom hou. Haar proefpreek is in die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika, Gemeente Hawston Mount Pleasant, gelewer – voorheen bekend as die NG Sending-kerk.”
Volgens hom is dit ‘n eer dat die gemeente vir die eerste keer in Hawston se geskiedenis ‘n eie predikant oplewer – “en dan boonop ‘n vrou; dis inderdaad ‘n deurbraak.”
As Tesné nie agter die boeke is nie, sal jy haar by haar familie kry. Sy geniet dit om tyd saam met haar familie deur te bring – veral op staproetes. “Dit gee my nie net rus nie, maar versterk ook my verhouding met God en die mense naaste aan my hart.”
Die natuurskoon in die Overberg is nog iets wat haar bekoor en sy sal altyd ‘n sagte plekkie vir die Overberg in haar hart hê. “Die Overberg is vir my spesiaal omdat dit ‘n plek is waar ek die wonder van God se skepping op ‘n unieke manier beleef – van die golwende heuwels tot die stille kuslyne. Dis ook waar ek keer op keer herinner word aan wat dit beteken om ‘n gemeenskap te wees.”
Tesné het van ‘n jong ouderdom af besef dat niemand perfek is nie. “Ons almal maak foute, en dit is deel van menswees. Wat saak maak, is dat ons genade moet hê vir onsself, moet leer uit ons foute, en elke dag weer kies om met hoop vorentoe te beweeg.”
Wat haar toekomsdrome betref, wil sy graag ‘n lewe lei wat ‘n blywende verskil maak. “Ek wil ‘n voorbeeld stel vir ons jongmense, hoop bring en God se liefde uitleef in alles wat ek doen. Ek wil ook geestelik bly groei, gesonde verhoudings bou, en die roeping voluit uitleef wat die Here in my lewe geplaas het.”