Die Hermanus-tak van die Vrouelandbouvereniging (VLV) se maandbyeenkoms op 9 Mei was baie leersaam vir diegene wat daarvan hou om tuisprojekte aan te pak.
“Ons landbouafdeling het vir Reinhardt Singleton van Hermanus Hardware as spreker genooi en wat ’n interessante en leersame middag was dit nie,” het Mariëtte Steyn, mediawoordvoerder vir die VLV-Hermanus, gesê.
Singleton het ’n praatjie oor verskeie uitheemse plante (hoofsaaklik van Australië en Nieu-Seeland) gelewer. Verder het hy ook meer oor heuningplante gepraat en raad gegee oor hoe om hulle terug te snoei. “Wat nog interessant was, is die maak van steggies en die raad wat daarmee gepaard gaan. Wie sou kon dink dat growwe riviersand die beste is om steggies in te plant aangesien dit help dat die steggies vinniger wortels maak?”
Verder het hy ook meer inligting gegee rakende die plantproses. “Hy het vir ons raad gegee oor hoe om ’n lekker groot gat te maak met goeie kompos, soos gesifte sampioenkompos wat met die grond wat uitgegrawe is, gemeng word. Verder het hy ook die drie kodes van kunsmis vir ons verduidelik sodat ons kon leer watter deel vir wortelgroei, watter deel vir groen kleur en watter deel vir blom is. Afwisseling tussen organiese en anorganiese stowwe is ook bespreek,” vertel Mariëtte.
Die marktafel met groente uit die vallei was ook ’n treffer terwyl die kompetisietafel met gebottelde blatjang en quiches van hoogstaande gehalte was.
Die VLV-Hermanus vergader elke tweede Woensdag van die maand in die Hermann Swartsaal by die NG kerk Hermanus.