Vir die eerste keer sedert die inperking kon daar Saterdag 5 Februarie weer ’n interskole-atletiekbyeenkoms plaasvind.
Die opgewondenheid by atlete sowel as toeskouers was duidelik te bespeur. Die byeenkoms tussen Hoërskool Overberg, Hoërskool Hermanus en Bredasdorp Hoërskool is by die sportterrein van Hoërskool Overberg in Caledon aangebied.
Verskeie puik prestasies is deur die atlete gelewer. Die naelbytstryd vir hoogspring vir o.17-seuns het vir baie opwinding gesorg en het toeskouers behoorlik op die punte van hul sitplekke gehad. Daniël Hanekom van Hermanus en Urlin Benjamin van Ovies het met gemak op ’n hoogte van 1,8 m oor die lat geseil. Hanekom is eerste geplaas. Hoërskool Hermanus het die byeenkoms gewen met 1 016 punte, gevolg deur Ovies met 745 punte en Bredasdorp met 658 punte.